Die kanon tydens die Hervorming en post-hervorming

Divine fullness is only going to be reached by a progressive and ever-increasing revelation of Christ and His significance – T. Austin-Sparks

Die kanon tydens die Hervorming en post-hervorming

Die Hervormers, geïnspireer deur die humaniste, reageer op die probleme soos volg:

  1. Die Ou Testament moet op die korter Hebreeuse Bybel gebaseer word – nie op die Septuagint met sy addisionele apokriewe geskrifte nie. Hoekom? Die Hebreeuse Bybel was die Woord van God wat deur Jesus en sy dissipels gebruik is. Van die apokriewe boeke het ook verkeerde chronologiese en geskiedkundige inligting bevat. Die apokriewe is dus nie deel van die Hervormers se Ou Testament nie.
  2. Die Hervormers aanvaarse klassieke onderskeiding: die kerk kon net die kanonieke geskrifte gebruik om sy leer en praktyke te vestig. Die apokriewe kon nie gebruik word as basis vir die kerk se leer nie. Dit beteken dat die sakrament van boetedoening en die praktyk om vir die dooies te bid word nie Bybels gesteun nie en moet dus gestaak word. Maar die apokriewe was nie nutteloos nie. Martin Luther het byvoorbeeld Judit en die Wysheid van Salomo aangeprys – boeke wat Christene met vrug kan lees. Die lees van die apokriewe is aangemoedig, maar kon beslis nie vir die ontwikkeling van die leer van die kerk gebruik word nie. Ons is terug by Hieronimus se onderskeiding.
  3. Die Nuwe Testament moet op die oorspronklike Grieks gebaseer word. Waar die kerk se leer en praktyke berus op die swak vertaalde Vulgaat moet hulle verander of geskrap word. Luther open sy 95 stellings (31 Oktober 1517) met hierdie twee punte:
  • Wanneer ons Here en Meester, Jesus Christus, sê: Bekeer julle (Matteus 4:17) wou Hy gehad het dat die hele lewe van gelowiges een van bekering moet wees.
  • Hierdie woord verwys nie na die sakrament van boetedoening, dit is belydenis, soos deur die priesters geadministreer word nie.

In sy verduideliking van hierdie twee punte  gebruik Luther die Griekse woord metanoeite wat beteken om ‘n ander denke en gevoel aan te neem, om ‘n oorgang te maak van een vorm van denke na ‘n ander, om ‘n verandering van gees te hê. Hierdie ontdekking lei tot Luther se verwerping van boetedoening as ‘n sakrament. Dit bevestig dat die kerk se Nuwe Testament die oorspronklike Grieks moet wees.

Die Hervormers verwerp ook die siening dat die Rooms-Katolieke kerk se gesag hoër as dié van die Skrif is. Die formele beginsel was sola Sciptura – die Skrif alleen. Die Skrif, omdat dit die Woord van God is, het genoeg status en geloofwaardigheid in homself. Dit is nie nodig vir die kerk om gesag aan die Bybel te gee nie. Dit beteken dat die kerk nie die kanon bepaal het nie. Calvyn haal Paulus aan om hierdie punt te bewys: Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en profete (Efesiërs 2:20). Dit beteken die Skrif het die kerk voorafgegaan. Die kerk erken en bevestig die Goddelik geïnspireerde geskrifte is wat God bedoel het in die Skrif geplaas moes word. Hoe weet die kerk wat die kanonieke Skrif is?  Die getuienis van die Heilige Gees en die Skrif se eie bewys van sy waarheid.

Die Protestantse geloofsbelydenisse beklemtoon dit. Die Rooms-Katolieke kerk reageer op die verwerping van die apokriewe  by die Raad van Trent. Hulle probeer die Protestantse “foute” regstel deur die  Katolieke kanon – met apokriewe ingesluit – te herbevestig. Hulle gee ook ‘n sterk waarskuwing: mense wat hierdie tradisie verwerp sal vervloek word. Die Protestante word met veroordeling deur die kerk gedreig. Die Protestante staan vas – die apokriewe is nie deel van die Skrif nie.

Volgende keer kyk ons na die kanon in die moderne tyd.