Die kanon van die Nuwe Testament en Nicea

Only a mediocre person is always at his best – W. Somerset Maugham

Die kanon van die Nuwe Testament en Nicea

Michael Kruger skryf dat daar baie algemeen aanvaar word dat die kanon van die Nuwe Testament in 325 by die eerste ekumeniese konsilie in Nicea vasgestel is – onder die invloed van Konstantyn. Dan Brown maak hierdie selfde aanspraak in sy boek The Da Vinci Code. Dit was ‘n bestaande siening wat hy eenvoudig in sy boek gebruik het.

 

Hierdie aanspraak is vals. Die konsilie by Nicea, en Konstantyn, het niks met die samestelling van die Nuwe Testament te doen gehad nie. Nicea se bekommernis was hoe Christene Jesus Christus se Goddelikheid sou artikuleer. Dit was die geboorteplek van die Geloofsbelydenis van Nicea.

Sodra mense besef dat die vergadering by Nicea niks met die samestelling van die Nuwe Testamentiese kanon te doen gehad het nie, vra hulle gewoonlik: “Watter vergadering/sinode het oor die kanon besluit?”  Ons kan tog nie ‘n kanon hê sonder dat ‘n gesagvolle, amptelike liggaam daaroor besluit het nie. Iewers moes iemand tog hieroor gestem het.

Daar was nie so ‘n liggaam nie. Daar was streeksliggame wat uitsprake oor die kanon gemaak het – Laodisea, Hippo, Kartago. Hierdie liggame het nie boeke gekies wat dan in die kanon opgeneem is nie. Hulle het bloot daardie boeke wat reeds as fundamentele dokumente vir die Christelike geloof gefunksioneer het, bevestig. Hulle het verklaar hoe dinge was – nie hoe hulle dit graag sou wou hê nie. Hierdie liggame het nie geskep of bepaal of gesag verleen aan sekere boeke nie – hulle het bloot ‘n kanon erken wat reeds daar was.

Die Nuwe Testamentiese kanon se samestelling is nie deur ‘n stemmery of raad of sinode aanvaar nie, maar deur ‘n breë en langstaande konsensus.The canon of the New Testament was ratified by widespread consensus rather than by official proclamation (Bart Ehrman).

Die kanon is nie deur mense gemaak nie; dit was nie die gevolg van magspeleties deur die ryk, kulturele elite in een of ander donker, rookgevulde kamer nie. Dit was die resultaat van God se mense wat oor baie jare hierdie boeke gelees en gebruik het en daarop gereageer het.

Dieselfde geld basies vir die Ou Testamentiese kanon. Jesus self haal uit die boeke van die Ou Testament aan. Nêrens kry ons ‘n indikasie dat  daar enige onsekerheid was oor watter boeke daar behoort het nie. Hy het selfs sy gehoor aanspreeklik gehou daarvoor dat hulle hierdie boeke moes ken.

Mense het  ‘n rol in die kanonieke proses gespeel, maar beslis nie die rol wat so dikwels aan hulle toegedig word nie. Mense het nie die kanon bepaal nie – hulle het daarop gereageer. In wese het die kanon eintlik homself gekies.