Die kerk en die teater

 

The world is filled with God’s glory. You can’t turn without bumping into it. —R.C. Sproul

 

Die kerk en die teater

‘n Direkteur van ‘n teater sê dat die kerk meer soos die teater moet word. In die teater is die direkteur in beheer van die hele produksie – hy besluit wat opgevoer gaan word, watter akteurs gaan optree, hy gee insette oor die ontwerp van die stel, hy bepaal die akteurs se beweging op die verhoog – hy werk met elke akteur individueel om te verseker dat alles reg verloop. Hy is baie sigbaar tydens oefeninge, maar as die stuk lewend gaan, is hy onsigbaar. Die akteurs neem eienaarskap van die stuk. Na die tyd sal die direkteur vir elkeen terugvoer en voorstelle gee. Hy vertolk egter nooit ‘n rol nie.

 

Is dit nie hoe die kerk veronderstel is om te werk nie? In Efesiërs 4:11 – 12 praat Paulus van apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars wat aan die kerk as gawe geskenk is. Wat is hulle taakbeskrywing? Sy doel hiermee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die Liggaam van Christus. Hulle taak is om die gelowiges – die akteurs – toe re rus om hulle rol te vervul. Soos die direkteur moet hulle onsigbaar word as die spel begin.

 

Is dit wat vandag in ons kerk gebeur? Nee, die leraar, saam met ‘n paar vrywilligers, is die direkteut en akteurs. Meeste mense sit in die kerkbanke – toeskouers wat die stuk of toejuig of kritiseer. Dit is agterstevoor. Is dit nie een van die redes waarom baie gemeentes ondoeltreffend funksioneer nie? Van die verhoor word gelowiges opgeroep om deel van die bediening van die gemeente te word. ‘n Belangrike en noodsaaklike oproep, maar onvoldoende, want dit fokus net op die aktiwiteite binne die gemeente.

 

Die probleem is dat baie Christene vandag geen nie-Christene ken nie. Ons praat van uitreik in die gemeenskap, maar baie mense weet nie hoe nie. As ons mense by God se visie betrokke wil kry, moet ons hulle toerus – praktyke en gedrag wat tot die uitbouing van God se koninkryk sal lei. Weet ons hoe om mense by geestelike gesprekke betrokke te kry? Daarna moet hulle uitgaan en dit in die praktyk beoefen. Dit sal hulle passie en vertroue vermeerder. Oefen met aanspreeklikheid. So vorder ons van Christene wat kennis het na Christene wat aktief optree. Hulle kom op die verhoog en word deel van die aksie.

 

In jou gemeente is die mense op die verhoog of sit hulle in gemakstoele in die gehoor? Hulle sien alles wat gebeur, maar word nooit deel daarvan nie. God wil nie hê sy kinders moet net die storie ken, lees en liefhê nie. Hy wil hê almal moet deel van sy storie word. Leier, rus jy jou mense toe om deel van die storie te wees?