Die kerk: Plek van stilte

Die kerk: Plek van stilte – Francois Malan

Sonet vra:

Het die Kerk begin heiligheid verloor? Is dit nie veronderstel om ‘n plek van stil word voor God en in aanbidding naby aan Hom te wees nie?

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord Kerk beteken: die mense van die Here Jesus Christus (Grieks kuriake ‘die Here s’n’).

Die kerkgebou is die plek waar die gemeente van Jesus bymekaarkom, waar ons saam ‘n erediens hou.

Die erediens is die samekoms van Christus se gemeente, mense wat aan Hom en aan mekaar in liefde verbind is deur ons geloof in Hom as ons Verlosser. Die doel van ons samekoms is:

  1. om saam God te aanbid met die belydenis dat Hy ons God en Vader is deur sy Seun Jesus Christus. Daar bid ons dat sy Naam geheilig word, sy koninkryk mag kom, en sy wil op aarde geskied. Daarmee vra ons ook dat God in ons as sy gemeente en in elke kind van Hom moet werk, sodat ons samelewing en ons lewens sy Naam sal heilig, sy koninkryk laat kom en sy wil laat geskied.
  2. om saam God te loof en te dank vir sy genade en goedheid en sorg oor ons, waar ons ook vra om sy sorg vir ons daaglikse brood, sy vergifnis van ons sonde (soos ons mekaar ook vergewe), en dat Hy ons verlos van die Bose, ook van die bose in ons eie harte en gemeentelike lewe (vgl. Matteus 6:9-13).
  3. om saam te luister na sy Woord, deurdat die Bybel verduidelik en toegepas word op ons lewe – sodat ons Hom beter kan ken, sy wil vir ons lewe beter kan insien, om ons lewe te kan toets aan sy wil en ons sonde en tekortkomings duidelik kan word, sodat ons sy vergifnis daarvoor kan vra, en nuut begin lewe (vgl. 2 Kor 5:17-19).
  4. om saam te bely dat dit alles slegs moontlik is deur Heilige Gees van God wat in kom woon het om ons aan Christus te verbind, en ons al meer soos Christus te laat word, om soos kinders van God te lewe (Romeine 8:12-17; 2 Kor 3:18).

Heiligheid – beteken dat ons aan God gewy is. Die heiligheid van die gemeente beteken dat ons doen en lewe volgens ons Vader se wil en wense. Romeine 12:1 sê: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Efesiërs 5:17-21 sê: probeer te wete kom wat die Here wil hê dat julle moet doen…laat die Gees julle vervul en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere, sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

‘Met die Gees vervul word’ beteken om vol te word met insig in die wil van die Here as die maatstaf vir ons lewe, en dan so te gaan lewe.

‘sing onder mekaar’ met blydskap, waarmee die Gees ons harte en ons hele lewe vul en wat oorborrel in sang.

‘aan mekaar onderdanig wees’- om nie langer myself en my belange in die sentrum van my lewe te plaas nie, maar om ander se belange selfs belangriker te ag as myne (vgl. Filippense 2:3-4 en Romeine 12:3).

‘in die Naam van ons Here Jesus Christus’ beteken dat ons dank en lofsing as mense vir wie Jesus verlos het van ons self en van ons sonde, en ons met God versoen het om as kinders van God te lewe onder sy leiding en met die krag van sy Gees wat in ons woon.

Die kerk is nie die plek waar ek alleen stil word voor die Here nie, maar waar ek, saam met die ander kinders van die Here, Hom aanbid, met vreugdesange sy lof besing, saam na sy woord luister en daarvolgens gaan lewe. Dit moet vir die wêreld duidelik word uit ons liefde vir mekaar en ons blydskap in die Here. Die heiligheid van die kerk kom in die eerste plek uit in die liefde vir God en vir mekaar, maar ook vir ons vyande (Matteus 5:44,45 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel….’

 

Skrywer: Prof Francois Malan