Die kerk se leerstellings is belangrik

The church is like a swimming pool. Most of the noise comes from the shallow end.” –John Shelby Spong  

Die kerk se leerstellings is belangrik

Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:15)

Paulus skryf aan sy jong kollega Timoteus.  Timoteus moes funksionele gemeentes  organiseer – dit was sy taak. Paulus gee vir hom ‘n aantal beginsels. Hierdie beginsels geld steeds.

Een van die dinge wat Paulus ontstel het, is mense wat vals leerstellings versprei : Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God (1 Timoteus 1:3 en 11).

Tim Keller sê dat ons in ‘n tyd leef waarin die woord leerstelling ‘n negatiewe woord is. Tog kan ons nie sonder leerstellings leef nie. Gemeentes sê: “Ons preek nie leerstellings nie; ons preek Jesus.” Maar die oomblik as jy vra maar wie is Jesus en wat het Hy gedoen, begin jy leerstellings uitlê. Maar hierdie leer is nie net noodsaaklik nie, dit is ook gesond. Hiermee sê Paulus dat die verkeerde leer wegvreet aan jou geestelike gesondheid – jy sal geen geestelike vrugte dra nie.

Vergelyk hedendaagse strategieë om stres te hanteer en Paulus se  raad oor hoe om innerlike vrede te kry. Moderne benaderings sê jy moet wegkom, ‘n beter werk-ontspanning balans kry, negatiewe gedagtes en skuldgevoelens te blokkeer en om ontspanningstegnieke te leer. Moderne boeke sê nooit: “Dink aan die groot lewensvrae nie – waar kom ons vandaan, waarheen is ons op pad, wat is die betekenis van die lewe?”  Wat sê Paulus? Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig… en God wat vrede gee, sal by julle wees (Filippense 4:8 – 9). Wat sê Paulus in werklikheid hier? “God het die wêreld gemaak en ons het ons rug op Hom gedraai; Hy kom terug en betaal ‘n enorme prys; eendag sal Hy alles regstel en ons sal by Hom wees – vir altyd. As jy  dit verstaan en glo, sal niks jou onderkry nie.”

Die wêreld sê dat jy vrede moet kry deur nie te hard te dink nie. Die Christelike geloof sê dat jy vrede kry deur baie hard te dink – leer, begryp en rus in die waarheid van God se woord. Leer die Bybelse leerstellings – vir jou eie gesondheid.