Die kerk vandag (10)

 

When we give to God we give him what is his; when we give to the poor we merely redistribute God’s wealth –  Derrett

 

Die kerk vandag (10)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Een ding wat ons vandag baie algemeen hoor, is dat gelowiges hulleself moet voed. As dit beteken om gelowiges op te lei en toe te rus om die Christelike dissiplines te beoefen, is dit reg. Wat ons nie nodig het nie, is ‘n groep eensame mense wat eensaamheid beoefen nie. Is meer individualisme werklik die antwoord?

 

Die kerk is die liggaam van Christus – en ons het dit nodig. Ons het die geloofsgemeenskap en die ondersteuning wat dit bied, nodig. Ons het ook die herders nodig.

 

Jesus vra vir Petrus in Johannes 21:15: Het jy my baie lief, meer as hulle hier? Ja, Here antwoord Petrus hom. Maar nou sê Jesus nie vir hom: “Leer my skape om hulle self te voed” nie. Nee, Jesus sê: pas my skape op. Jesus praat hier van ‘n herder se persoonlike sorg vir sy kudde. Jesus help vir Petrus om te sien dat sy rol die werk van Jesus Christus self moet weerspieël: “As jy my waarlik liefhet, sal jy aan ander doen wat Ek vir jou gedoen het.” Jesus gee nie net hulpbronne en programme uit nie, maar Hy sit/stap/praat/eet/bid saam met hulle. Hy gee hulle raad en help hulle reg; Hy bemoedig hulle. Hy sweet, huil en slaap voor hulle – en Hy sterf vir hulle. Jesus weet dat die skape ‘n herder nodig het.

 

Dit beteken nie ons moet nou alles los nie. Wat ons van moet vergeet, is dat ‘n program die sleutel tot geestelike groei is. Dissipelskap is nie ‘n sisteem nie – dissipelskap is om Jesus te volg. Dit vereis hulp wat meer persoonlik as ‘n program is. Die selfvoedingsprogram aanvaar dat wat mense kortkom is ‘n stel vaardighede om hulle behoeftes te hanteer. Jesus sê nie: “Leer my skape nie.”  Ons het vaardighede nodig, maar eerstens het ons genade nodig. Jesus is nie ‘n rolmodel nie, maar die soewereine God.