Die kerk vandag (11)

 

God’s Word, when rightly expounded, is medicinal for a whole host of spiritual diseases. —Joel Beeke

 

Die kerk vandag (11)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Die kern van die boek is: sentraal staan die evangelie. Hoe word dit prakties uitgeleef? Daar is egter geen program of skema of formule nie. Ook moet ons onthou dat dit God is wat bepaal wie sukses behaal en wie nie. Watter aanvanklike skuiwe moet ons maak?

 

Meet die regte dinge

In Matteus 25:14 – 27 lees ons Jesus se gelykenis van die muntstukke. Uit hierdie gelykenis kan ons ‘n paar dinge leer:

  • God gee nie aan almal dieselfde aantal gawes en hulpbronne nie. Party kry min; party kry baie. Maar elkeen wat iets van God ontvang het, word vertrou met dit wat hy gekry het.
  • Dit maak nie saak hoeveel jy het nie, maar wat jy doen met dit wat jy ontvang het. Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar (Lukas 16:10). Getalle is nie al wat belangrik is nie. Wat belangrik is, is nie die kwantiteit van jou bediening nie, maar die kwaliteit. Ons moet baie versigtig wees om kwaliteit te meet. Vrae soos: Het jy die musiek geniet? Was die erediens opwindend en relevant? Het jy spesiaal gevoel toe jy daar was? Nie een van hierdie vrae is eintlik geestelik nie. Nie een van hulle meet die werklike waarde van die ondervinding nie. Ons kan hierdie selfde vrae oor Disney World vra.

 

Dit is duidelik ons moet ander dinge meet.

  • Diegene wat gedoop is, wandel hulle nog in die geloof na een/twee/drie jaar?
  • Hoeveel mense is opgelei om ander persoonlik te help om dissipels te word?
  • Watter persentasie van mense wat die eredienste bywoon, is betrokke by gemeenskapsgroepe/ Evangelisasie/ Gemeenskapsdiens.
  • Hoeveel mense kan die boodskap van die evangelie artikuleer?
  • Wat is die reputasie van die gemeente in die gemeenskap?

 

Hierdie dinge is baie moeiliker om te meet, maar vertel vir ons baie meer as blote getalle en ondervindings. Die verskil is om ‘n skare bymekaar te maak of om dissipels te maak. Om ‘n skare bymekaar te maak, beteken ons moet voortdurend innoveer en probeer om voor die kultuurwinde te bly. Wat van belang is, is nie grootte nie, maar verhoudings. Die klem moenie op gebeure en ondervindings val nie, maar om mense by die storie van die Bybel betrokke te kry.

 

Ons moet ons aan die soewereine barmhartigheid van die Heilige Gees, wat nie gemeet kan word nie, oorgee. Jy han nie dissipelskap programmeer nie.  Ons is nie hier met ‘n godsdienskode besig of ‘n stel opdragte vir ‘n meer suksesvolle leefwyse of gedragsmodfikasie nie. Dit gaan oor die opstanding uit die dood. Ons word deur genade ontvang in geloof geloof verlos. Dit kom alles van die Here.

 

Die boodskap van die evangelie is ‘n aankondiging oor wat God in Jesus Christus gedoen het. ‘n Dinamiese prediker maak nie die evangelie kragtiger nie. Die evangelie kan nie verbeter word nie. Hartsverandering is iets wat net die Heilige Gees kan doen. God is aan die werk in die evangelie – dit kom van Hom, dit word deur Hom bemagtig en dit werk deur Hom. Die Heilige Gees wat deur die evangelie werk, is die enigste krag wat ons het. Die probleem is dat ons nie die Heilige Gees kan beheer nie. Die Heilige Gees is nie ‘n formule nie – Hy waai waar Hy wil.

 

Word selfkrities

Die pad vorentoe gaan bepaal word deur alles op die tafel te plaas vir onderhandeling. Dit verwys uiteraard nie na die Bybel en ons basiese geloofswaarhede in nie. Dit verys na ons metodes en aannames van “hoe dinge werk.” Elke kerk het mense met die nodige gesag nodig om te sê: “Dit is ‘n slegte idee.” Luister na wat hulle sê; bewys dat hy verkeerd is as jy van hom verskil, maar moenie die vrae onderdruk nie. Die probleem is dat baie van ons gemeentes enige kritiek uitsluit, want dit mag seermaak. Dikwels is die kritiek ook uit onkunde.

 

Ons kan van sekere van ons kritici leer. As ons die nodige nederigheid en vertroue in Jesus Christus het, kan ons by hulle leer. Dink ten minste oor wat hulle sê. Daar is baie kritici wat kritiseer, want hulle het die kerk lief. Begin deur betroubare persone uit te nooi om die waarheid met jou te praat; laat hulle toe om vrae te vra; laat hulle toe om te sê as hulle nie met jou saamstem nie. Mense hou nie van kritiek nie – veral nie as dit geldig is nie. Ek begin onmiddellik verdedig en verskonings maak. Moenie aanvaar dat elke goeie idee wat jy het in werklikheid goed is nie.