Die klank van stilte

When a wise man talks to a fool, two fools are talking. – Joodse spreekwoord

 

Die klank van stilte

Kom ons kyk na die siening van vier persone in die Bybel:

  • Habakuk

Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees (2:20)

Soms is die enigste toepaslike reaksie op God se heiligheid stille eerbied.

 

  • Paulus

Paulus bid vir alle mense  – ook dié wat regeer en mag uitoefen sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid (1 Timoteus 2:2).

 

  • God

Na Elia se magtige oorwinning oor die profete van Baäl op Berg Karmel dreig Isebel, die koningin. Elia verval in ‘n erge depressie en dreig om sy eie lewe te neem. God praat met Elia, nie in ‘n sterk wind of ‘n aardbewing of ‘n vuur nie, maar in’n fluistering in die windstilte (1 Konings 19:12). God praat in die stilte; die stilte help ons om God se stem te hoor.

 

  • Jesus

Jesaja praat profeties oor Jesus, die lydende dienaar van Jesaja 53: Hy was mishandel, maar het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie (53:7). Tydens sy bediening het Jesus die skares onderrig, gelykenisse vertel, vrae gevra, maar tydens sy verhoor bly Hy stil.

 

Habakuk, Paulus, God en Jesus het almal gedink dat stilte goud werd is. Hoekom?  Dit is baie moeilik om te luister as daar lawaai is en daar is baie lawaai in ons wêreld. Ons het stilte nodig om na God en na ander te luister.