Die koninkryk van God

 

When pride walks on the platform, God walks off (Anoniem)

 

Die koninkryk van God

Scot McKnight (Kingdom Conspiracy) sê dat die grootste fout wat mense maak as hulle van die koninkryk praat, is vergelykings. Dit is dinge soos ”Die koninkryk is die ideaal; die kerk is die werklikheid,” “Die kerk is bloot ‘n manifestasie van die koninkryk, maar dit is nie die koninkryk nie, want die koninkryk sal ‘n volmaakte, regverdige en liefdevolle gemeenskap wees.” Almal van hulle faal op grond van ‘n fundamentele aspek van die koninkryk.

 

Kom ons kyk na twee stellings wat Jesus oor die koninkryk gemaak het.

  • Die koninkryk is teenwoordig.

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15)

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “ Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!, of: ‘Daar is dit!, nie, want die koninkryk van God is hier by julle.” (Lukas 17:20 – 21).

  • Die koninkryk is in die toekoms

Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink (Markus 14:25).

Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis  vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom (Lukas 19:11).

 

Wat sê hierdie verse vir ons? Die koninkryk van God is reeds teenwoordig, maar lê ook nog in die toekoms. Hoe is dit moontlik? Teenwoordig, maar nog nie volledig vervul nie. Die vraag is dus met wat vergelyk ons die kerk – die huidige bevestigde koninkryk of die toekomstige volledige koninkryk?

 

Ons het weer twee lyste nodig: Kerk nou en Kerk nog nie

  • Kerk nou

As ons aan die kerk nou dink, dink ons aan Paulus se voortdurende stryd met die gemeentes – wie kan die gemeente in Korinte vergeet? Ons kry dieselfde in ander gemeentes Die “kerk nou” is die kerk wat bymekaarkom met gebroke leierskap, gebroke heiligheid, gebroke liefde, gebroke vrede, gebroke regverdigheid, … Die kerk nou skiet ver tekort van die kerk nog nie. Ons kan nie die “kerk nou” met die ‘koninkryk nog nie” vergelyk nie – die kerk skiet ver tekort.

 

  • Kerk nog nie

Hier dink ons nie net aan die beloftes dat die kerk die koninkryk sal erf nie, maar nog meer: … soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Efesiërs 5:25b – 27). Let op die woorde wat Paulus gebruik om die kerk mee te beskryf: volle heerlikheid … sonder vlek of rimpel … heilig en onberispelik. Dit beskryf nie die “kerk nou” nie, maar wel die “kerk nog nie.” Lees net weer Openbaring 21:9 – 22:5.

 

Daar is ‘n spanning tussen koninkryk nou en koninkryk nog nie. Ons kry dieselfde by die kerk. Die kerk is ook nou en nog nie. As ons die koninkryk nou wil vergelyk, moet ons dit met die kerk nou doen. Om die kerk nou met die koninkryk nog nie te vergelyk is onvergelykbaar.

 

+