Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (1)

 —Anthony Thiselton

 Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012. Is die koninkryk nog vir ons van belang vandag?

Mense begin meer en meer dink oor die verband tussen ortodoksie (wat Christene glo) en ortopraksie (hoe Christene lewe). Ongelukkig is daar dikwels spanning tussen die twee. Sekere geloofsgemeenskappe beklemtoon die een meer as die ander – en sê dan die ander groep is nie ware Christene nie.

 

Die Bybel is baie duidelik – ons moet mense van geloof en die praktyk wees. Paulus bemoedig vir Timoteus: Let goed op jou lewe en jou leer (1 Timoteus 4:16). Jakobus sê: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie (Jakobus 2:14). Hier is gelyktydige oproepe  om te glo en te doen. Ongelukkig is dit nie moontlik om altyd te weet wat die beste is nie.

Kom ons kyk na ‘n paar beginsels wat ons in die regte rigting kan lei in ‘n wêreld gekompliseer deur die teenwoordigheid van sonde, afgode, pyn, onderdrukking, globalisering en ‘n hele aantal ander sake. Die basiese vraag wat ons moet antwoord is: Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

Liefde

Die primêre kenmerk van die koninkryk van God is liefde. Die heerskappy van die Drie-eenheid vereis ‘n lewe van liefde. Die persoon en werk van Jesus Christus maak ware liefde moontlik. Hy gee ook vir ons die model oor hoe liefde in die praktyk lyk. Om sy volgelinge te help om dit verstaan, som Hy dit op – die grootste gebod is liefde vir God en jou naaste. Burgers van God se koninkryk is mense wat liefde beoefen. Maar om God lief te hê, is makliker gesê as gedoen. Liefde vir God beteken dat ek onwrikbaar toegewy is om die dinge wat God liefhet ook lief te hê.

 

As ek my naaste reg liefhet, beteken dit dat ek dit soek wat vir hom voordelig is. Om my naaste soos myself lief te hê, beteken dat ek my beste belange najaag. My beste belange moet egter ooreenstem met God se beste belange vir die wêreld. My beste belange mag nooit die waardigheid van ander ondermyn nie.

Die liefde waarvan ons praat, is ‘n gehoorsame liefde wat aan God se gesag  onderdanig is; ‘n liefde wat deur sy onderrig gerig word; ‘n liefde wat vasbeslote is om sy wil te gehoorsaam. Jesus stel dit baie duidelik: As julle my liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15). Dit is ‘n liefde gekenmerk deur dankbaarheid omdat God ons eerste liefgehad het.

As Jesus praat van die verband tussen liefde en gehoorsaamheid herinner Hy sy dissipels dat die Heilige Gees hulle sal bystaan, vertroos en raadgee: Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak gee om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid (Johannes 14:16 – 17). Hoe ek in die koninkryk van God lewe is totaal afhanklik van die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is die waarborg dat die doelwitte van die koninkryk bereik sal word.

Liefde is die fondament, oriëntering en toepassing van geloof in die praktyk. Liefde is die eerste beginsel in die koninkryk van God en dit bepaal al die ander beginsels. Ongelukkig vertel liefde alleen nie altyd vir ons wat die beste praktyk onder alle omstandighede is nie. Daarvoor het ons die ander beginsels nodig.