Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (3)

The most dangerous dissensions in the world have often sprung from rather trifling beginnings. — Huldrych Zwingli

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (3)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Vandag kyk ons na die derde en vierde waarneming oor die koninkryk in die Matteus-evangelie.

3.Beproewing in die huidige en vergoeding in die toekoms

In Matteus 5:1 – 12 beskryf Jesus diegene wat werklik gelukkig is. Hy beskryf die identiteit van ‘n dissipel gevolg deur die beloofde voordeel. Die hele gedeelte druis in teen ons intuïsie. Luister net: Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Hoe kan dit ‘n seëning wees? Die antwoord lê in die voortsetting van God se heerskappy: Want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (5:3); en weer dieselfde in 5:10. In hierdie seënuitsprake bevestig Jesus ‘n toekomstige stand van sake – huidige moeilike omstandighede word in ‘n ander, gunstiger lig geplaas. Aan hulle behoort die koninkryk (teenwoordige tyd) oor iets wat God in die toekoms gaan doen om hulle huidige swaarkry die moeite werd te maak. Daar is dus beide ‘n huidige en toekomstige dimensie aan die koninkryk wat Jesus verkondig.

Later beklemtoon Jesus hierdie punt in ‘n gesprek met mense wat Hom nie goedgesind was nie: Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (12:28). Jesus sê dat die koninkryk van God tot by hulle gekom het – nou reeds. Daar is egter ook ‘n toekomstige dimensie wat alle mense sal beïnvloed – goed of sleg.

 

  1. 4.Dissipels van die koninkryk moet ander beïnvloed en in die openbaar getuig

Nadat Hy sy dissipels verseker het van vertroosting in die toekoms (die seënuitsprake), bespreek Hy die doel van hulle huidige swaarkry.

  • Julle is die sout vir die aarde (5:13). Jesus het iets spesiaal na persoonlike verhoudings en sosiale situasies gebring. Sy dissipels moet dit ook doen as gevolg van hulle verhouding met Hom.
  • Julle is die lig vir die wêreld (5:14). Dissipels moet dien as bakens vir die lewe en boodskap van Jesus. Jesus volg dit op met ‘n opdrag: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader  wat in die hemel is verheerlik (5:16).

Sout en lig vir die wêreld word noodsaaklikhede en doelwitte vir Jesus se volgelinge.

Volgende keer kyk ons verder na sekere waarnemings in die Matteus-evangelie