Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (7)

People today put more trust in witnesses than in teachers, in experience than in teaching, and in life and action than in theories” Pous Johannes Paulus II

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (7)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Ons kyk vandag na die sewende waarneming oor die koninkryk in die Matteus-evangelie.

 

7.Koninkryksetiek mag konvensionele wysheid weerspreek

Vir drie jaar lank hoor Jesus se dissipels Hom praat oor die koninkryk van God. Hulle het sekerlik gewonder of hulle aan die eise van sy koninkryk voldoen. Eendag vra hulle Hom: Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel? Jesus roep ‘n kindjie nader en sê die eerste vereiste is dat hulle moet verander – bekering. Dan moet hulle soos ‘n kindjie volkome vertrou – soos kinders gesagsfigure, soos ouers, vertrou. Jesus gee nie net inligting nie, maar rig ook ‘n uitdaging: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Jesus se antwoord was in daardie sosiale konteks beslis vreemd: Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. Later sê Jesus vir sy dissipels: Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle (19:14).

 As Jesus se oproep op kinderlikheid as kriterium vir grootheid in die koninkryk nou die wysheid van destyds weerspreek het, doen sy aandrang op selfopofferende liefde presies dieselfde. Toe die moeder van Johannes en Jakobus na Jesus toe kom en voorkeur behandeling vir haar twee seuns bepleit, antwoord Hy: Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees (20:26 – 27). Jesus is self die model: So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (20:28). Deelname aan die koninkryk van God vereis nederigheid – harde werk en die dien van ander. Jesus het goed besef dat regeerders in die wêreld baasspeel en hulle mag misbruik. Die koninkryk wat Jesus hier kom vestig het se prioriteite verskil radikaal hiervan.

 

Die laaste aspek waarna ons gaan kyk in ons bespreking van die koninkryk van God as tema in die Matteus-evangelie is Jesus se gelykenisse wat verband hou met die koninkryk.