Die koninkryk van God: Wat is dit? (2)

. —Sinclair Ferguson

Die koninkryk van God: Wat is dit? (2)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

In die vorige blog het ons gesien dat Jesus tydens sy bediening op aarde baie aandag aan die koninkryk van God gegee het. Ons het ook gesien dat daar verskillende sienings is van wat die koninkryk van God beteken.  ‘n Goeie begrip van die koninkryk is onontbeerlik vir die korrekte verstaan van Christus en die verlossing wat Hy bewerk het. Dit is nie so maklik nie, want Jesus se stellings oor die koninkryk is oënskynlik teenstrydig.

 

 

  • Is die koninkryk huidig of toekomstig?

Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (Matteus 12:28) –  huidig.

Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink (Matteus 26:29) – toekomstig.

 

  • Gaan die koninkryk oor verlossing of oordeel?

Dan sal die koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit (Matteus 25:34) – verlossing.

Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeie en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matteus 13:47 – 50) – oordeel

 

  • Beteken die koninkryk dat God heers of is dit ‘n plek waar Hy heers?

Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie (Lukas 1:31 – 33) God heers

Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. Net soos my Vader ‘n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ‘n koninkryk aan julle, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer (Lukas 22:28 – 30) – ‘n plek.

 

Hierdie is vals keuses. Jesus sien dat daar baie fasette aan die koninkryk is: dit is huidig en toekomstig; dit sluit beide verlossing en oordeel in; die sluit beide heerskappy en ‘n plek in.

 

Volgende keer kyk ons na enkele historiese perspektiewe van die koninkryk.