Die korona-virus – Jan van der Watt

Jan vra:

Hoe behoort die Christen te reageer op aspekte waar die virus mense se gemeenskap van gelowiges bv deur eredienste en gebedsbyeenkomste inperk.

Antwoord

Prof Jan van die Watt antwoord:

Die vraag van inperking is ’n moeilik en gevarieerde probleem, soos ons ook internasionaal sien – nie alle lande volg dieselfde beleid nie. Dit is nie die fokus van die webblad om op politieke standpunte te reageer nie. Die wyer probleem van die gemeenskap van die gelowiges raak egter alle Christene.

Die Christendom is in sy diepste wese in verhoudings gewortel. Gelowiges is geestelik een liggaam wat mekaar moet versorg, versterk, in liefde dra en so kan ons voortgaan. As 1 Johannes (2:5; 4:12) sê dat God se liefde in gelowiges volmaak word, beteken dit nie dat God se liefde eers onvolmaak was nie. Die Griekse woord (teleioō) dui daarop dat ’n doel bereik is, met ander woorde, God se liefde vir mense op aarde het sy doel bereik as daardie liefde deur mense na ander mense vloei (1 Jn 4:7, 12). Dan bereik en raak God se liefde almal. Dit gebeur deurdat ons onder andere mekaar help en bystaan as kinders in die familie van God (1 Jn 3:16-17). Gelowiges is en bly ’n gemeenskap, ’n geestelike familie wat na mekaar moet omsien en afhanklik is van mekaar. ’n Kool wat uit ’n vuur val en eenkant lê gaan gou dood. Ons het mekaar nodig om die warmte van God se liefde te ervaar. Dit is en bly een van die hoekstene van die Christelike geloof. Om die gemeenskap van die gelowiges weg te neem is inderdaad om een van die pilare van die Christendom weg te neem.

Sonder om enige uitspraak oor inperking tydens ’n pandemie te maak, kan wel gesê word dat as mense die gemeenskap verbied word, daar ’n baie ernstige en goeie rede voor moet wees en dit absoluut net ’n tydelike maatreël moet wees.

Daar is’n verdere aspek, naamlik die persoonlike verantwoordelikheid van die gelowige om ook na jou eie verhouding met God om te sien en die naaste aan jou Christelik te ondersteun. Onthou, die vroeë gemeentes was maar baie klein, soms net ’n gesin of twee wat in ’n huis kerk gehou het. Die gemeenskap van die gelowiges was ook daar aanwesig – ’n groot kerk of baie mense was nie nodig nie. Dit beteken dat mens in so ‘n uitsonderlike geval as pandemie baie nader aan ‘jou eie’ moet leef. Daar in jou vrou of man, jou kinders moet jy ook die teenwoordigheid van die liefde van God laat geld en dit daar ervaar. Dit is baie moeiliker as om in ’n kerk met baie mense te sit en die Here te dien.

’n Laaste aspek, die Bybel lê besonder baie klem op kennis van God en sy Woord. Om die waarheid te sê kan ’n Christen ook nie sonder die kennis nie, want God is ’n God wat Hom aan ons openbaar het – ons het Hom nie uitgedink nie. As ons dus nie uit sy Openbaringswoord leer wie Hy is nie, beteken dit dat ons nie weet wie Hy is nie. Dan dink ons ons weet, maar maak eintlik net ons eie storie oor God op. In ’n situasie waar inperking of gebrek aan ander gelowiges geld, is dit logies dat die fokus effens van byeenkomste na die uitbreiding van mens se kennis skuif. Dit is dus ’n goeie idee om die tyd te gebruik om God se Woord te ondersoek. Daarin wil ’n webblad soos Bybelkennis.co.za ook help.

Skrywer : Jan van der Watt