Die krag van Gebed

 

To trust God in the light is nothing, but trust him in the dark—that is faith. —C.H. Spurgeon

 

Die krag van Gebed

In Markus 9:14 – 29 kry Jesus se dissipels met ‘n seun wat deur ‘n gees besete was, te doen. Hy  het dikwels op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.  Die gees het hom selfs in die vuur en in water gegooi. Die seun se vader het hom na die dissipels gebring vir genesing. Hulle kon hom nie help nie. Toe Jesus daar aankom wil Hy weet wat aan die gang was. Die seun se vader verduidelik die situasie aan Jesus. Na ‘n kort gesprek genees Jesus die seun.

 

Later toe hulle alleen was, wou die dissipels weet waarom hulle nie die seun kon genees nie. Jesus antwoord hulle: Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie. As ons bid, onderwerp ons ons aan die Bron van alle krag – Jesus Christus. Doeltreffende, lewensveranderende bediening kom nooit deur die krag van ‘n mens nie, maar deur die krag van God. Die mens is net die kanaal waardeur God werk. Gebed is die manier om hierdie kanaal oop te hou.

 

Die gesprek tussen die vader en Jesus is baie interessant. Die vader sê: As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons. Let op: As. Beteken dit dat hy nie geloof in Jesus het nie? Daarom sê Jesus vir hom: Vir die een wat glo, kan alles. Dan die vader se uitroep: Ek glo … Help my in my ongeloof. Dit is waar elke gelowige leef.  Ons glo, maar met die krag van Christus nodig om ons in ons ongeloof te help. Net die gelowige wat bid, kan ander help. Sonder gebed het jy geen bediening nie.