Die Kultuur van lyding

Learning is weightless, a treasure you can always carry easily. -Chinese spreekwoord

Die Kultuur van lyding

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

In die vorige blog het ons van die smeltkroes van lyding gepraat. Wat beteken dit? Om dit te verstaan gaan ons by die kultuur van lyding begin. Lyding lyk asof dit baie dinge wat sin aan die lewe gee, vernietig.  Die probleem is dat ons moet leer hoe om doelgerig te lewe te midde van pyn en lyding. Een van die wyses waarop kultuur sy lede dien, is dan ook  om hulle te help om die bose, teenstand, pyn en lyding te hanteer. Mense moet kan sien dat lyding nie net sleg is nie, maar wel betekenis kan hê. Ongelukkig is ons Westerse kultuur ‘n swak leermeester.

 

In ons Westerse kultuur sien ons nie die sin van lyding nie. Ons huidige kultuur gee ons feitlik geen instrumente om tragedies te hanteer nie. Ander kulture soos die Boeddhisme, Hindoeïsme, en selfs Islam, help hulle volgelinge om lyding te hanteer.  Die Westerse kultuur wil ten alle koste lyding vermy. Daarom is ons nie toegerus om lyding te hanteer nie. Die wêreld se siening is dat al wat ons het hierdie materiële wêreld is – niks meer nie. As dit ons siening is, kan lyding geen betekenisvolle rol speel nie. Daarom moet dit ten alle koste vermy word.

Tog is daar sekere ooreenkomste tussen die verskillende kultuursienings:

  • Elkeen vertel vir sy lede dat lyding geen verrassing is nie – dit is ‘n noodsaaklike deel van die lewe.
  • Lyding mag lei tot geestelike groei en/of die bemeestering van jouself.
  • Om iets deur lyding te bereik, berus by jouself.

Richard Dawkins, die bekende ateïs, sê dat mense sukkel om lyding te verwerk, want hulle wil nie aanvaar dat dit geen doel dien nie – dit is sinloos. Lyding is leeg. Omdat baie Westerlinge glo dat die najaag van plesier en persoonlike vryheid die doel van die lewe is, is lyding vir hulle traumaties.  Die moderne Westerse kultuur sien nie lyding as ‘n geleentheid of toets nie. Sodra ons lyding ervaar reageer ons op een van twee maniere:

  • Verminder die lyding so veel en so vinnig as moontlik; en
  • Soek die oorsaak van die lyding en verwyder dit.

Dit gaan beslis nie oor tot interne aanpassings, leer en groei nie. Daarom word die antwoord op lyding altyd deur kundiges – medici, sielkundiges, ens – voorsien.

Die Christelike siening van lyding verskil radikaal van dié van alle ander kulture. Christene kan hulle hartseer en pyn met uitroepe en vrae uitdruk. Vir Christene is lyding ‘n werklikheid. Ons kan net na Jesus Christus kyk. In Getsemane lees ons dat Jesus  ontsteld en beangs geword het: Ek voel doodsbenoud (Markus 14). Sy sweet het soos bloeddruppels geword (Lukas 22:44). Hy pleit self dat God die lydensbeker van Hom moet wegneem. Maar dan: Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil (Markus 14:36).

The line dividing good and evil cuts through the heart of every human being (Aleksandr Solzhenitsyn). Die Christelike verstaan van lyding loop deur genade. In Jesus  Christus het ons vergifnis en liefde en word ons as deel van sy familie aangeneem – alles onverdiend.

Wat dan van die sekulêre wêreld?