Die lydingstydperk

Die lydingstydperk – Jan van der Watt

Willie vra:

Kan u vir my asseblief die lydingstydperk van Jesus duidelik maak. Ek moet dit kan bespreek en verduidelik. Hoekom, vir wie, hoe dit gebeur het.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier is twee vrae ineen – ‘hoekom, vir wie en hoe’ en wat is die lydingstydperk.

 

Vraag 1: Hoekom, vir wie en hoe?

Die ‘lyding van Jesus’ is ‘n omvattende onderwerp wat eintlik die hele Nuwe-Testamentiese boodskap insluit. Die fokus en sentrale punt van die lyding is die kruisdood van Jesus, wat Paulus dan ook in 1 Kor 2:1-5 die hart van die evangelie noem. (Dit moet altyd met die opstanding van Jesus saam gelees word, soos wat uit 1 Kor 15 blyk – Jesus het gesterf maar het ook opgestaan). Hier moet ook net vinnig genoem word, dat nie net die kruis nie, maar Jesus se hele lewe as ‘n vorm van lyding gesien kan word, soos Paulus byvoorbeeld in Fil 2:6-11 verduidelik – Jesus het sy goddelike verblyf in die hemel opgegee om mens te word.

Dat die Messias (= Gesalfde Koning wat God gestuur het) aan ‘n kruis sou sterf was natuurlik heeltemal teen die alledaagse verwagting in. Die Jode in die tyd van Jesus het verwag dat daar ‘n koning gaan kom om hulle van die juk van die Romeine te verlos en Jerusalem vir hulle vry te maak. Nou kom Jesus as die koning en die Romeine maak Hom dood, in plaas van die ander kant om. Daarom het almal Jesus eintlik teleurstellend verlaat (sien Luk 24:13-35, veral vers 21) – daar was net ‘n paar mense, feitlik net vroue, by die kruis oor. Met die opstanding het alles verander – Jesus se opstanding het gewys dat Hy regtig God is, omdat Hy gedoen het wat geen mens kan doen nie.

Stel jouself nou voor dat jy in daardie tyd geleef het, en nou moes verduidelik dat die persoon wat aan ‘n kruis dood is (maar nou lewe, wat mense maar moeilik sommer so wou glo tot hulle werklik ‘n ontmoeting met die lewende Jesus gehad het – sien bv. Hand 17:32), die Messias is wat hulle kom red. Die ‘onwaarskynlike boodskap’ het juis die hart van die verkondiging van die kerk geword. Hoekom Jesus moes ly en sterf word dus op verskillende maniere in die Nuwe Testament verduidelik. Laat ons na ‘n paar (nie almal  nie)van die hoekoms en vir wie’s kyk:

* Jesus moes die bose kom oorwin – Hy moes op geestelike gebied mense van die duiwel wat agter al die verkeerde dinge in die wêreld sit, ook van die wêreldmagte soos die Romeine, kom vrymaak. So het Hy nie ‘n paar Jode vir ‘n tydjie in die eerste eeu van die mag van die Romeine verlos nie, maar kon mense oor al die eeue uit die mag van die bose kry, ja, almal wat glo word gered. Lees maar gedeeltes soos Heb 2:10,14; 1 Joh 3:8; 1 Tim 1:15.

* Jesus se bloed reinig ons van sonde – lees Hand 20:28; Rom 3:21-26; 1 Kor 6:11; 15:3; Gal 1:4; Ef 1:7; Tit 2:14; Heb 9:14; 1 Pet 1:19; 1 Joh 1:6-10. Met hierdie idee van bloed sukkel ons soms, maar as ons die Ou Testament lees, sien ons dat die verhouding tussen God en die mens met verbonde (ooreenkomste – sien elders in Bybelkennis.co.za) gereël word – God maak met Noag, Abraham, Jakob en by Sinaï met sy volk verbonde of ooreenkomste. In ‘n verbond/ooreenkoms tussen twee groepe is daar altyd voorwaardes aan verbonde, soos met ons ooreenkomste vandag ook maar (as ek ‘n kontrak teken vir ‘n kar verwag ek dat ek ‘n goeie kar kry en die verkoopsman verwag dat hy goeie geld kry). Toe God met Abraham en met sy volk by Sinaï so verbond gemaak het, was die ooreenkoms dat Hy vir hulle ‘n God sal wees en dat hulle vir hom ‘n volk moet wees – as hulle egter nie hulle deel van die ooreenkoms nakom nie, moet hulle sterf, want dan onteer en minag hulle die lewende God. Vandaar die idee dat ongehoorsaamheid aan God bloed (offers) vra, om te wys dat die mens nog belangstel om met die verbond aan te gaan (jammer is oor die sonde). Jesus het egter gekom en eens en vir altyd die voorwaarde van die ooreenkoms nagekom: Hy het gesterf sodat almal wat aan Hom glo op grond van daardie bloed kan sê dat hulle jammer is oor wat hulle verkeerd gedoen het en graag met die ooreenkoms wil aangaan – lees weer 1 Joh 1:6-2:2. As Jesus dit nie gedoen het nie, sou ons dit moes doen. Daarom sê ons Hy het sy lewe vir ons gegee en word dit dikwels met offers verbind. Hy red ons dus van die sonde onder andere ook deur die voorwaardes van die goddelike ooreenkoms na te kom.

* Die koms en kruis van Jesus is ook ‘n bewys van die liefde van God en sy Seun (lees Joh 3:16; Ef 5:25; Op 1:5) waardeur God nie net die Jode nie maar alle mense die kans gee om kinders van God te word (Ef 2:14-18).

Hierdie is maar net ‘n paar voorbeeld van hoe daar oor die lyding en kruisdood van Jesus nagedink word.

 

Vraag 2: Wat is die lydingstydperk?

Die lydingstydperk word gewoonlik gesien as die laaste tydperk van Jesus se lewe toe Hy Jerusalem toe is om te gaan sterf. In die kerk word die ‘lydingstyd’ gevier deur sewe weke voor Paasfees elke Sondag ‘n ander faset van Jesus se lyding te vier. In party kerke is daar ‘‘n vaste patroon (liturgie) maar in ander kerke word daar eenvoudig net in die (voorbereidende) tyd oor die lyding van Jesus nagedink. Die hoogtepunt is dan met die naweek van Paasfees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt