Die mens as beeld van God

Coelho

Die mens as beeld van God

Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld (Genesis 1:26)

Aan die een kant is die mens uniek; aan die ander kant is hy nes al die ander dinge, want soos hulle is die mens ook deur God gemaak. Maar nou is ons God se beeld. Op een of ander wyse is ons soos God en dan plaas Hy ons in die wêreld as sy verteenwoordiger.

Beteken dit ons fisiese voorkoms stem ooreen met dié van God? Kan tog nie wees nie, want ons lees: God is Gees (Johannes 4:24). Daar is al baie voorstelle oor wat hier bedoel word as God sê die mens is sy beeld:

 

  • Die verwys na die mens se vermoë om sy rede te kan gebruik.
  • Dit verwys na die mens se vermoë om etiese besluite te neem.
  • Dit verwys na die mens se persoonlikheid.
  • Dit verwys na die mens se vermoë om verhoudings te bou.
  • Dit verwys na die mens wat gesag oor die skepping het.

Paulus sê: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. die Seun is die eerste, verhewe bo die hele skepping (Kolossense 1:15). Ons lees ook: Uit Hom (Jesus Christus) straal die heerlikheid van God, en Hy is die ewebeeld van die wese van God (Hebreërs 1:3).

Om sy beeld te wees, beteken dat die mens op een of ander manier  Hom weerspieël. Ons het die verantwoordelikheid om God vir die wêreld te wys – sy handewerk, sy wese, sy eienskappe moet in ons weerspieël word. Maar ons moet ook aanvaar dat hierdie beeld deur die sonde besmet is.

Miskien is daar ‘n beeld uit die antieke tyd wat ons kan help. Toe het konings beelde van hulleself dwarsdeur die land opgerig. Hoekom? Om aan die inwoners en die omliggende volke ‘n visuele beeld te gee van wie hier in beheer is. Hierdie land is onder die koning se jurisdiksie. God het die mens na sy beeld geskep om in nederigheid sy heerskappy op aarde te bemiddel – om die mense te herinner dat God die Koning van die wêreld is.

God het die mens na sy beeld geskep. Dit beteken eenvoudig dat God die mens gemaak het om Hom hier op aarde te weerspieël sodat die mense kan besef God is Koning. Om God te verteenwoordig is ‘n groot verantwoordelikheid. Ons voel dit is te groot en daarom moet ons soos die psalmis uitroep: Wie is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien (8:5).