Die Missie van die Kerk (3)

 

If there is no God, all things are permissible (Fyodor Dostoyevsky).

 

Die Missie van die Kerk (3)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Wat is die Groot Opdrag

Matteus 28:16 – 20 is die bekendste van almal:

Die elf dissipels het na Galilea gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.  Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

 

Ons sien dat Jesus sy dissipels beveel het om na die berg te gaan. Berge is plekke waar belangrike onderrig en openbarings gegee is: die bergrede, die Berg van verheerliking, Sinai. Jesus bring sy dissipels vir oulaas bymekaar vir iets betekenisvol.

 

Eers verseker Hy hulle van die goeie nuus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Die missie wat Hy aan hulle gaan gee, berus uitsluitlik op sy gesag. God stuur nie sy kerk uit om te oorwin nie; Hy stuur ons uit in die Naam van Hom wat reeds oorwin het. Ons gaan, want Hy heers.

 

Dit word gevolg deur een opdrag met drie ondersteunende opdragte. Die groot opdrag is: Maak die mense my dissipels. Waar? Wie? Die nasies. Jesus sien aanbidders en volgelinge onder elke kultuur en taal. Die ander drie opdragte werk uit wat hierdie proses van dissipels maak behels. Ons gaan; ons doop; ons leer. Gaan beteken dat ons gestuur is. Doop beteken bekering en vergifnis en insluiting as deel van God se familie. Leer wys dat Jesus meer as net die aanvanklike evangelisasie verwag. Hy wil gehoorsame, volwasse dissipels hê – nie net besluite nie.

 

Hierdie taak word moontlik gemaak deur Jesus se versekering aan sy dissipels: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” So ‘n waarborg sou nodig gewees het vir die dissipels om hierdie opdrag uit te voer. Maar hierdie belofte strek tot aan die voleinding van die wêreld.

 

Ons kry die opdrag ook in Markus 13:10 en 14:9 sowel as in Lukas 24:44 – 49. In Handelinge 1:8 lees ons: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot die uithoeke van die wêreld. Hierdie is die opdrag oor wat om te doen totdat Jesus weer kom. Dit is wat in Handelinge beskryf word – gelowiges wat dwarsdeur die wêreld getuig.

 

In die volgende blog gaan ons na die eerste dissipels en die Groot Opdrag kyk.