Die negatiewe reaksie van Jerusalem (56:9-57:13) – Francois Malan

Na die vreugdevolle uitsig op ‘n gemeenskap waarin almal welkom is om saam te aanbid en te lewe uit die genade van die Here, vertel die volgende twee hoofstukke van die negatiewe reaksie van Israel op die uitnodiging, en stippel dit die vereistes van die Here uit sodat Israel waarlik die dienaar van die Here sal wees wat sy beeld vertoon aan die nasies om hulle nader te trek na die Here toe. .

56:9-12: Die gedeelte begin met ‘n vreeslike dreigement. Diere van die oop veld en al die diere in die bos, die wilde diere, word opgeroep om in die gemeenskap in te kom en te verslind. Die invallers word nie by name genoem nie, maar gewoonlik word ‘verslind’ gebruik vir ‘n invallende leërmag wat alles vernietig. Die Here is gewillig om Israel weer oor te gee aan ‘n bedreiging van buite af, so sleg het hulle verdorwenheid geword. Dit is eintlik’n herhaling van wat die Here deur Assirië (10:5-6) en Babel (47:6a) as sy roede gedoen het.

Dit is ‘n aanval op die leiers van die gemeenskap (wagte en skaapwagters). Die wagte is veronderstel om te waak sodat hulle die volk teen gevare kan waarsku en om die volk te beskerm teen aanslae van buite. Hulle word vergelyk met honde:’n  blinde hond  sien nie die gevare nie; hulle is ook stom, hulle blaf nie – waarsku nie en maak nie alarm teen gevare nie; is lief vir slaap en droom in hulle slaap, weet nie wat gevaar is nie; eet gulsig en kry nooit genoeg nie (letterlik: hulle weet nie wanneer om tevrede te wees nie), – Israel se leiers tree net soos gulsige en slapende honde op en sorg net vir hulleself. Hulle verwaarloos die volk wat gewaarsku moet word teen godsdienstige, sosiale en politieke gevare.

Die leiers is herders wat hulle skape moes lei en beskerm, maar hulle sorg net vir hulleself (soos die herders in Eseg. 34). Hulle gebruik openbare fondse om hulleself te verryk, is dronkaards  wat net aan hulle eie genot dink, hulle werk verwaarloos, en nie vir ander omgee nie (vgl. Amos 6:4-6 van voor die ballingskap). Hulle gee nie om nie, en dink dat daar niks op die spel is nie. Dit is nie wat die Here daarvan dink nie!

Die slegste is dat dit al die leiers is: v10: almal is blind, almal is stom; v11 almal slaan hulle eie koers in – weg van die Here se pad vir Israel, hulle is elkeen uit op sy eie voordeel (vgl. daarteenoor Filip 2:3-4). Almal wat geroep is tot leierskap het gefaal, en daarom is daar geen hoop nie. Die ernstige oproep in 56:1-8 om alle mense in te sluit, het sinies waardeloos geword deur ‘n leierskorps wat die Here se doel met Israel dwarsboom met hulle selfsugtige denke en gulsige lewenswyse. Hulle eng en bekrompe denke het die Here se plan verwerp, van ‘n oop en insluitende samelewing onder sy beskerming. Hulle moes as beeld van God voor die nasies lewe, maar daarin het hulle misluk (vgl. Mat 5:41-48). Dit is die rede vir die Here se toorn en straf.

Die keuse: vrede of teen die Here (57:1-2).

57:1-13 Hierdie moeilik verstaanbare gedeelte skilder die diepe verdeeldheid in die samelewing van Jerusalem wat besig is met die heropbou van die stad. Daar is ’n  duidelike verskil tussen die ‘regverdiges,’ wat toegewy is aan die woord en wil van die Here, en hulle negatiewe teenstanders, wat maklik hulle geloof in die Here laat aanpas by hulle eie wil en wense. Verse 3-13a is ‘n veroordeling van die boosheid en die bose werke van die teenstanders teen die plan van die Here. Die gedeelte word omsoom  met vers 1-2 aan die begin en 13b aan die einde, om elemente in die samelewing, wat lojaal is aan die Here en op Hom vertrou, te bevestig.

‘Hy kom om (hy sterf),  maar niemand neem dit ter harte nie (slaan daarop ag  met barmhartigheid nie), en mense wat lojaal is (teenoor die Here) word versamel (= sterf) en niemand begryp dat dit vanweë die boosheid is dat die lojale persoon versamel word (sterf) nie.’ (‘n alternatiewe verklaring lui: want die regverdige word weggeneem uit die ellende; of: word voor die bose weggeneem). Dit beskryf die chaotiese posisie waar mense hulle nie daaraan steur dat ander mense ly nie, of dit maar verdra dat gelowiges en getroue wetsgehoorsames vervolg word. Die situasie is soos dié van die dienaar van die Here in Jes 53. Die regverdige is die slagoffer van die ontrou en inhaligheid van die leiers en die gewelddadigheid wat daarmee gepaard gaan.

57:2: ‘Hy (die regverdige) kom (tot sy vaders = sterf) in sjalom (vrede en welsyn); hulle rus op hulle lêplek/rusplek, hy wat reguit wandel’ – alternatiewe vertalings vir die onduidelike teks is: 1. En hulle wat opreg lewe gaan in met vrede en sal op hulle rusbanke rus; 2. vertalings wat die enkelvoud met ‘die regverdige’ vertaal, en meervoude met ‘die kwaaddoeners’, vertaal soos volg: wanneer die vrede kom sal hulle in hulle beddens rus (die kwaaddoeners), sy opregtheid gaan voort (die regverdige s’n); 3. Die1983-vertaling: Dié wat die reguit pad loop kom waar daar vrede is, en hulle rus in die graf.

Die vers bevestig die Here se hulp aan dié wat volgens die Here se aanwysings lewe. Die geloof van die regverdige gaan nie ongemerk by die Here verby nie (Calvyn het gemeen die Here kom gryp die regverdige, om hom deur die dood uit die dreigende moeilikheid te red).

Skrywer:  Prof Francois Malan