Die noodsaaklikheid van geloof

The Shema means that you have to love God intellectually (“with all thy heart), emotionally “with all thy soul”) and practically (“with all thy might) – Mordecai Kaplan

Die noodsaaklikheid van geloof

Die woorde geloof en glo word algemeen in ons taal gebruik. Politici vra dat ons in hulle beleid moet glo; die huwelik is basies ‘n geloofsband tussen twee mense wat mekaar ken, vertrou en in mekaar glo. Omdat die lewe so onseker is, kyk ons na mense, instellings en idees waarin ons kan glo. Geloof, vertroue, hoop spruit voor uit ‘n lewe van teenstrydighede – lewe en dood, trou en ontrou, behoort en verraad, ens. Ons hele lewe is een van geloof in onsself of ons familie of ons vriende, planne, mense instellings, ens. Ons soek vir iets of iemand om ‘n rots of anker te wees waaraan ons kan vashou terwyl die wêreld buite beheer is – altans so voel dit vir ons.

 

Geloof is ‘n onvervreembare eienskap van die mens se bestaan. Ons het wel ‘n keuse in wie of in wat ons glo. Maar of ons nou in iets of in iemand glo, dit is ‘n noodsaaklikheid – dit is deel van menswees in die wêreld. Dit is ons aard om ons hand uit te steek na die onbekende en te hoop vir wat ons mag kry.

As die Apostoliese Geloofsbelydenis met Ek glo … begin, vra dit van mense wat die belydenis lees om hulle behoefte aan kennis, vertroue en aan iets te behoort, te erken – iets buite hulleself. Ons het baie behoeftes – kos, skuiling, doel en vriendskap. Ons kan self sekere van hierdie behoeftes hanteer. Daar is egter ‘n behoefte wat in elke mense ingebou is – om God te ken. Augustinus stel dit so: U het die ewigheid in ons harte geplaas en ons harte is rusteloos totdat hulle in U rus. Hierdie gevoel van ontevredenheid word net bevredig as ons ontdek dat ons gemaak is om God te ken en lief te hê. Geloof is as ons geestelike honger bevredig word. Die Apostoliese Geloofsbelydenis sê vir ons wat ons behoefte is – ‘n behoefte om in God te glo.