Die Nuwe Testamentiese Kanon (1)

Die Nuwe Testamentiese Kanon (1)

Michael Kruger het ‘n reeks begin om ons te help om die basiese feite van die Nuwe Testament te verstaan. Hierdie is die soort feite wat jou sal help in ‘n gesprek met ‘n skeptiese persoon. Die eerste feit wat hy stel, is: Die Nuwe Testament is die vroegste Christelike geskrifte beskikbaar.

 

Dit is veral duidelik as ons na die vier evangelies – Matteus, Markus, Lukas en Johannes – kyk. Hierdie is die enigste vier evangelies wat uit die eerste eeu dateer. Daar is ‘n paar teoloë wat probeer het om die Evangelie van Tomas in daardie tydperk te plaas, maar sonder sukses. As al die stof gaan lê het, erken die kritici dat ons huidige vier evangelies die oudste beskrywings wat ons van Jesus het, is.

Daar is ‘n paar kantaantekeninge waarop ons moet let:

  • Daar is verskille oor die datums waarop party Nuwe Testamentiese boeke geskryf is. Daar is selfs kritici wat beweer dat van die boeke vervalsings is wat eers in die tweede eeu na Christus geskryf is. Al aanvaar ons hierdie siening (wat baie min teoloë doen) dan kan ons steeds sê dat die oorgrote meerderheid boeke in die eerste eeu geskryf is. Slegs ‘n paar boeke is onder bespreking.
  • Die eerste brief van Klemens aan die Korintiërs is ook in die eerste eeu geskryf, maar is nie in die kanon ingesluit nie. Dit is waarskynlik geskryf in die tyd toe die kerk deur keiser Domitianus vervolg is – ongeveer 95 nC. Dit is later as die ander Nuwe Testamentiese boeke. Die enigste moontlike uitsondering is Openbaring wat waarskynlik ook in hierdie tyd geskryf is.

Hierdie boeke is nie by die kanon ingesluit net omdat hulle in die eerste eeu geskryf is nie. Die 27 boeke is nie deel van die kanon omdat hulle so vroeg geskryf is nie, maar alle boeke wat in die kanon opgeneem is is vroeg geskryf. Ons mag later ander geskrifte ontdek wat ook so vroeg geskrywe is. Die keuse van die 27 boeke was dus nie arbitrêr nie.