Die Ons Vader-gebed: Gee ons vandag ons daaglikse brood

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

God wil hê dat ons nie net oor sy sake – sy Naam, sy koninkryk en sy wil – bekommerd moet wees nie, maar ook ons menslike behoeftes. Hoekom sou Jesus nou brood voor vergifnis plaas?

Iemand met ‘n leë maag filosofeer nie oor skuld en vergifnis nie! [Dit is interessant dat Jesus se eerste versoeking in die woestyn ook met brood te doen het.]

Maar waarna verwys brood in hierdie versoek? Is dit ‘n simbool van alle noodsaaklike kos? In die Bybel gaan dit gewoonlik gepaard met water, klere, olie en wyn. Luther het gesê dat brood verwys na alles wat nodig is vir die behoud van lewe – kos, ‘n gesonde liggaam, ‘n huis, vrou, kinders, ‘n goeie regering en vrede. Die Heidelbergse Kategismus (Vraag 125) antwoord soos volg: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel. Hierdie gebed vir brood mag uitdrukking gee aan ‘n groot verskeidenheid behoeftes – ‘n werk, ‘n regverdige salaris, gesondheidsorg, godsdiensvryheid, politieke regte, ens.

Maar wat beteken hierdie gebed vir ons. Ten minste twee dinge:

  • Ons kan nie sommer al die dinge wat ons het, aanvaar asof ons ‘n reg daarop het nie. Ons bekommernis is gewoonlik wat ons môre gaan eet en aantrek – nie of ons iets het om te eet nie.
  • Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op ons wat het om die minderbevoorregtes te help.