Die Ons Vader-gebed: Laat u koninkryk kom

J. Oswald Sanders

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

Die koninkryk van God kry ons reeds in die Ou Testament. Dit word reeds vir die ryk van Dawid gebruik. Dit verwys eerstens na God se koninklike heerskappy oor Israel, maar toenemend na God se heerskappy oor alle nasies.

Op ‘n stadium is geglo dat God se koninklike heerskappy duidelik sal word uit die heerskappy van die konings van Israel (2 Samuel 7:12 – 16). Later is geglo dat God oor die wêreld uit die tempel sal heers (Esegiël 40 – 43). Ander het geglo dat God se koninkryk ‘n toekomstige entiteit is. Dan sal die huidige bedeling totaal omgekeer word – Israel is bo en al sy vyande onder hom. Die koninkryk van God beteken dus die herstelde koninkryk van Israel – die onderdrukte word die onderdrukker.

Jesus verwerp alle pogings om ‘n politieke koninkryk te vestig. Tog begin Hy sy aardse bediening met: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom (Markus 1:15). Matteus 13, die strukturele middelpunt van die boek, bevat nie minder as ses gelykenisse oor die koninkryk van God nie. Dit onderstreep die belang van God se koninkryk in Jesus se bediening. Die klem val op die nabyheid van die koninkryk – in werklikheid is dit reeds hier. Die koninkryk het aangekom met Jesus se persoon en bediening.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: as ons geregtigheid ignoreer gaan die koninkryk by ons verby: Nie elkeen wat vir My sê: Here! Here! sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader (Matteus 7:21).

Die versoek: Laat u koninkryk kom, is ook ‘n gebed vir die finale en volledige manifestasie van God se koninkryk. Die uiteindelike koninkryk van God moet nog kom. Maar as ons bid, wy ons ons toe aan die verwagting van die koninkryk. Ons het die versekering dat die koms van die koninkryk nie gedwarsboom kan word nie. God kan alle hindernisse oorwin. As ons dus bid: Laat u koninkryk kom, word ons opgeroep om te werk vir die koms van hierdie koninkryk.