Die Ons Vader-gebed: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

Verwysings na God se wil is algemeen in Matteus – meer so as in die ander twee sinoptiese evangelies. Lukas laat hierdie versoek uit in sy weergawe van die Ons Vader-gebed.

Tans word God se wil deur allerhande kragte teengestaan – ons is nog in opstand teen sy wil. Dit is die harde werklikheid. Maar dit is ook ‘n uitdaging: ons as God se kinders moet God se wil doen al is daar baie ander wat dit nie doen nie. Oral in Matteus lees ons dat God se wil iets is wat nou gedoen moet word.

Wat is God se wil? Alles wat Jesus ons beveel het. In die Groot Opdrag (Matteus 28:20) lees ons: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. God se wil is om God en ons naaste lief te hê, om geregtigheid te beoefen en om as sy dissipels alles te onderhou wat Hy ons beveel het. God se wil word deur die woorde en dade van sy kinders uitgevoer.