Die ontstaan van die Nuwe Testament – Francois Malan

Ronel vra:

Noem die vier stadiums waarop boeke in die NT opgeneem is.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die boeke van die Nuwe Testament is nie eintlik in ’n bestaande boek opgeneem nie, maar die boek het ontstaan uit die verskillende boekrolle wat met die hand geskryf is, waarvan die gesag van die Here se woord in die boeke deur die gemeentes beleef en aanvaar is. Die vooraf stadium was die mondelinge vertelling deur sy apostels en oorvertelling daarvan in die gemeentes van die woorde van Jesus en die verhale oor Jesus se optrede, sy kruisiging, dood, opstanding en hemelvaart, en die verwagting van sy wederkoms wat Hy voorspel het. Die eerste stadium is die erkenning van die basiese getal geskrifte as die norm vir die geloof en lewe van die Christene. Die Nuwe Testament is ’n versameling van 27 boeke wat deur verskillende persone op verskillende tye geskryf is, aan verskillende persone en gemeentes, onder verskillende omstandighede. Die geskrifte is onder leiding van die Heilige Gees met die hand geskryf en deur die ontvangers as die Woord van God aanvaar. Die briewe wat die apostels aan gemeentes geskryf het gehandel oor spesifieke probleme en onduidelikhede wat in gemeentes ontstaan het. Met verloop van tyd het gemeentes kopieë vir hulle gemaak van briewe wat by ander gemeentes ontvang is. So het ’n gemeente bv. ’n geskrif ontvang waarvan ’n ander gemeente ’n afskrif gemaak het. Paulus sê bv. aan die gemeente in Kolosse: ‘En wanneer hierdie brief by julle voorgelees is, sorg dat dit ook in die (buur-) gemeente Laodisea voorgelees word, en dat julle ook die brief wat van Laodisea af kom, voorlees (Kol 4:16). So het sommige gemeentes ’n aantal boekrolle gehad wat Paulus geskryf het, en wat hulle saam met rolle van die Griekse vertaling van ’n aantal van die boeke van die Ou Testament in hulle eredienste gebruik het. Op verskillende tye is die boekrolle in verskillende gemeentes aanvaar as die Woord van God, die maatstaf (kanon) vir hulle lewe, voordat dit onderskei is van baie ander geskrifte. 2 Petrus 3:16 verwys na al Paulus se briewe, wat wys dat daar reeds vroeë versamelings van party van sy briewe gemaak is. Die briewe van Paulus was almal klaar geskryf voordat die Evangelies geskryf is. Die Evangelieskrywers het later die woorde en werke van Jesus op versoek van gemeentes saamgestel uit die apostels se ervarings van Jesus en wat hulle aan hulle helpers vertel of voorgedra het. Dit is saam met die voorlesing uit die Ou Testament in die gemeentes gelees. Terwyl die Ou Testament se wet en profete die eintlike bron vir die leiding van die gemeentes was (vgl. Matt 5:17; 2 Tim 3:15-17), het die geskrifte van die apostels al wyer bekend geword en die maatstaf vir die gemeentes geword saam met die Ou Testament. Ook ander geskrifte deur kerklike figure is later in die eredienste gelees, soos Ignatius se briewe aan die Filippense, 1 Klemens in Korinthe, die Polikarpusbrief, ens. Hulle het egter nie dieselfde gesag gehad as die geskrifte wat van apostels af gekom het nie. Later moes die gemeentes leiding kry oor watter boeke die fondament vir die geloof van die gemeentes is en watter net goeie leesstof, wat nie dieselfde gesag het nie. In die tweede helfte van die 2e eeu n.C. was daar al versamelings van die vier Evangelies, Paulus se briewe., 1 Petrus en Hebreërs. Die tweede stadium die totstandkoming van die idee van ’n kanon van die boeke van die Nuwe Testament was die geleidelike aanvaarding daarvan as die Woord van God, deur die gemeentes, en die vervanging van die mondelinge tradisie met dié geskrifte. Terwyl die vroegste skrywers soos Klemens (96 n.C), Didache (95-120 n.C.), Ignatius (ongeveer 110 n.C.), Barnabasbrief (135 n.C.) woorde van Jesus aanhaal, berus hulle uitsprake meer op die mondelinge tradisie wat hulle hoër ag as die geskrewe woord. Papias (135 n.C.) verkies ook die mondelinge tradisie maar weet skynbaar van Markusevangelie en sekere woorde (logia) van Matteus. In 140 n.C. word enkele aanhalings uit die Evangelies gemaak in die 2e brief van Klemens. Teen 165 n.C. word telkens verwys na die Evangelies as bron deur Justinus die Martelaar. Daar was ’n groeiende erkenning van die normatiwiteit van die Nuwe Testamentiese geskrifte van ongeveer 95-165n.C. Die derde stadium (150-190 n.C) die afgrensing van die kanon teenoor die apokriewe geskrifte wat in die naam van die apostels geskryf word met legendes oor Jesus, Paulus en ander apostels, en die openbaringsaansprake van die Montaniste, wat hulle nuwe openbarings naas die Nuwe Testamentiese boeke as gesaghebbend beskou. Ireneüs en Athenagoras (albei 180 n.C.) staan by die oorgang van die tweede na die derde stadium. Die Nuwe-Testamentiese geskrifte word deur hulle as gelykwaardig aan die Ou Testament se boeke beskou en hulle het die Nuwe-Testamentiese geskrifte as maatstaf (kanon) gebruik in hulle stryd teen die ketters. Teofilus van Antiochië noem die Johannesevangelie as Heilige Skrif. Met die groot aantal boeke wat in die tweede helfte van die 2e eeu geskryf is en afwykende leringe verkondig het, het dit noodsaaklik geword dat die kerk aanwys watter boeke as maatstaf (kanon) vir die kerk en prediking gebruik kan word. In 144 n.C. stel Marcion sy lys van aanvaarbare boeke op. Hy verwerp die Ou Testament as ’n Joodse boek met hulle wet en geregtigheid deur wetswerke en minderwaardige aardse bindinge, en stel die evangelie van die liefdevolle en barmhartige God op wat slegs deur Paulus reg verstaan is. Van die Evangelies behou hy net die ‘nie-Joodse’ Evangelie volgens Lukas en tien briewe van Paulus, maar suiwer die Evangelie en Paulus se briewe van alle Joodse invoegings. Dit ontlok ’n wye reaksie wat die idee van ’n kanon gestimuleer het. Die vierde stadium is die afsluiting van die Nuwe Testamentiese kanon van ongeveer 190 n.C. tot die vyfde eeu. Die kanon Muratori wat moontlik rondom 200 n.C.in Rome geskryf is oor verskillende geskrifte praat van erkende of aanvaarbare geskrifte vir gebruik in die erediens. Die eerste Griekse skrywer wat die naam ‘Nuwe Testament’ gebruik is Klemens Aleksandrinus (dood voor 215 n.C.) en sy opvolger Origenes (185-254 n.C.); die eerste Latynse skrywer is Tertullianus. Hulle verwys na die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die aantal boeke waarna hulle verwys is meer as die huidige 27. Atanasius van Alexandrië se nege-en-dertigste Paasbrief in 367 n.C. aan die gemeentes in sy metrogebied bevat presies dieselfde 27 boeke van ons huidige Nuwe Testamentiese kanon, en noem dit ook die kanonieke boeke (wat die maatstaf is vir die kerk) teenoor die nie-kanonieke boeke. Sy invloed in die Oosterse en Westerse kerk was so groot dat sy kanon groot instemming en navolging gevind het. Die sinode van Rome 382 n.C. het die 27 boeke van die Nuwe Testament as kanoniek aanvaar, so ook die sinodes van Hippo Regius 393 n.C. en Karthago (397 n.C.). Pous Innosensius het in 405 n.C. gesê die kerk erken al 27 boeke as die kanon vir die kerk. (In 1546 het die Roomse konsilie van Trent die Bybelkanon as ’n geloofsartikel aanvaar. Dit het die inhoud van hulle Vulgata as hulle maatstaf gebruik, nl. die Ou Testamentiese Boeke, die Ou Testamentiese Apokriewe en die Nuwe Testament. Die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561 het die Ou Testament se 39 boeke en die Nuwe Testament se 27 boeke as kanoniek bely, en dat die Ou Testamentiese apokriewe wel gelees mag word en daaruit geleer word, maar dit het geensins die krag om die geloof van die Christelike godsdiens te bevestig nie. Dié geloofsbelydenis is in 1619 deur die Dordtse sinode aanvaar om alleen as outentiek gehou te word).

Skrywer: Prof Francois Malan