Die Ontwikkeling van die Psalms

 

High degrees of Christian assurance are simply not compatible with low levels of obedience. —Sinclair Ferguson

 

Die Ontwikkeling van die Psalms

Die skrywers van die Septuagint (tussen derde en tweede eeu voor Christus) het reeds die psalms min of meer in sy huidige vorm geken. Dit was egter die einde van ‘n lang proses. Hoe het hierdie proses verloop? Ons weet nie wanneer die individuele psalms geskryf is nie, maar ons kan wel iets van die proses naspeur.

 

In die Psalms is daar ‘n aantal subversamelings. Hierdie subversamelings het soortgelyke opskrifte en gebruike en hanteer soortgelyke onderwerpe. So kry ons twee openingsversamelings van Dawid (Psalms 3 – 41 en 51 – 72). Aan die einde van Psalm 72 lees ons: Hier eindig die gebede van Dawid, seun van Isai. Dit geld egter net vir die versameling en nie die hele boek nie, want later kry ons weer Psalms van Dawid. Daar is ook twee versamelings van die Koragiete (42 – 49 en 84 – 87 met ‘n Dawidpsalm tussenin – Psalm 86). Daar is psalms van Asaf (Psalm 73 – 83) en verdere Dawidspsalms (138 – 145).

 

Soms is dit duidelik hoekom psalms op mekaar volg, maar meestal is hulle losstaande. Psalms wat op mekaar volg sluit in 1 en 2, 3 en 4, 16 en 17, 30 en 31 en 32 en 33.

 

Daar is ook psalms wat sekere eienskappe deel. So byvoorbeeld gebruik Psalms 42 – 83 die woord Elohim vir God en nie YHWH nie. Psalms 93 en 95 – 99 vier God se koningskap. Psalms 113 – 118 staan as die Egiptiese Hallel bekend en is tydens die paasfees gebruik. Psalms 120 – 134 is weer pelgrimspsalms,

 

Hierdie versamelings is mettertyd saamgevoeg in een bundel. Daarom is daar geen struktuur in die psalms wat ons kan help met sy inhoud nie. Die Midrasj (=antieke kommentaar op deel van die Hebreeuse Skrif wat aan die teks aangeheg is) sê: As to the exact order of David’s psalms, Scripture says elsewhere: Man knoweth not the order thereof. Ons moet aanvaar dat slegs God die orde verstaan: Wie soos Ek is, laat hom dit sê, laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê; laat hom ‘n verklaring gee van wat gebeur het vandat Ek my volk lank gelede gemaak het en ook wat sal gebeur; laat hy vertel van die dinge wat kom (Jesaja 44:7). Ons moet aanvaar dat die psalms nie soos Genesis of Jesaja werk nie. In plaas van soek na struktuur van die psalms as geheel moet ons eerder probeer om die tipe psalms wat herhaaldelik voorkom, verstaan.