Die oorwinningslied van Debora en Barak

 

Knowledge of biblical doctrine is to the soul as an anchor to the ship, that holds it steady in the midst of the rolling waves of error, or the violent winds of persecution. —Thomas Watson

 

Die oorwinningslied van Debora en Barak

Hoe doen God sy werk in hierdie wêreld? In hierdie lied in Rigters 5 leer ons vier waarhede hieroor.

  1. As die leiers lei, loof die mense die Here (5:1, 9, 14 – 18)

Julle moet die Here prys, want leiers het opgetree in Israel, die volk het hulle aangemeld vir die oorlog. Met ander woorde: geseënd is diegene wat in geloof na vore kom en veg. Sy sonder selfs spesifieke stamme uit vir hulle deelname of gebrek aan deelname. Efraim, Sebulon en Issaskar was nie bang nie – hulle was getrou en het hulle lewens gewaag. Gilead en Dan doen niks nie.

 

In die kerk is daar baie mense  wat net bly sit of by die skepe bly (5:17), in plaas daarvan dat hulle veg. Dink maar aan Adam in Genesis 3. Hy was passief en het nie betrokke geraak nie. God het aan Adam die verantwoordelikheid gegee  om sy vrou te dien en te beskerm. Maar toe die slang kom, staan Adam net daar – hy wag om te sien wat gaan gebeur. Die grootste versoeking vir meeste mense is nie om die verkeerde te doen nie, maar om niks te doen nie. Die kerk is nie vol slegte mense nie,  maar baie bly soos Dan by die skepe. Want leiers het opgetree (5:2).

 

  1. God vervloek toeskouers

 Julle moet vir Meros vervloek, julle moet sy inwoners sonder genade vervloek, want hulle het nie vir die Here kom veg nie, nie vir Hom teen die dapper vegters kom veg nie (5:23). Debora is teleurgesteld in Gilead, maar sy vervloek vir Meros. Meros het nie iets sleg gedoen nie hulle het net niks gedoen nie. Hierdie is baie ernstig: God vervloek hierdie mense wat niks doen nie. Om toeskouer te wees, beteken nie net dat jy nie beloon word nie, maar dat jy vervloek word. Dit is nie genoeg om net eredienste by te woon nie. Onthou: Jesus het nooit gesê: “Kyk met aandag na My nie’: Hy het gesê: “Volg My.”

 

3 God sal eendag alles wat verkeerd is, reg maak

Sisera se ma kyk deur die venster en vra waarom Sisera so talm om terug te kom Haar hofdames stel haar gerus: hulle buit was groot en hulle is besig om dit te verdeel. Intussen lê Sisera in ‘n tent – doodgemaak deur ‘n vrou. Sisera, wat sy lewe lank vrouens onderdruk en mishandel het, word deur ‘n vrou doodgemaak. God sien alles raak; Hy sal alles wat verkeerd is, regstel.

 

  1. Al wat God verlang is gehoorsaamheid

Jael, die huisvrou, steek vir Sisera weg toe hy vir Barak gevlug het. Hy raak aan die slaap en Jael slaan hom met ‘n tentpen deur die slaap van sy kop (4:21). Sy gebruik nie ‘n wapen nie, maar ‘n huishoudelike item. Hierdie is ‘n les wat ons gereeld in Rigters kry: God verslaan magtige tiranne met swak instrumente. Dit is nie Barak of Debora wat Sisera doodmaak nie, maar ‘n eenvoudige vrou waarvan ons nooit weer lees nie. God werk in hierdie wêreld deur ons beskikbaarheid en nie deur ons vermoë nie.

 

Daarom kon Debora sing: Geseënd is Jael … meer geseën as al die vroue. Jael het haar beperkings gehad, maar sy was beskikbaar. God bring verlossing in die wêreld deur mense wat gehoorsaam is.