Die Openbaring aan Johannes – Babilon se vernietiging (18:21-24) – Francois Malan

Gelowiges juig (18:20)

18:20 Teenoor die drie groepe rouklaers se siening, staan die visie van Bo. Die herstel van die skepping vereis dat al die valse gode op hulle plek gesit word: ‘juig oor haar (oor Babilon)…’, Soos die hemel daaroor juig, moet die heiliges – dit is almal wat aan die ware God toegewy lewe – volgelinge van die Nuwe-Testamentiese apostels, en van die Ou-Testamentiese profete, daaroor juig (vgl. Jer 51:48). God het in sy geregtigheid julle oordeel oor haar voltrek (vgl. hulle noodkreet in 6:10). Babilon se begrafnis maak die plek reg, oop en skoon vir ‘n nuwe stad en ‘n nuwe skepping.

 

Babilon se vernietiging (18:21-24)

Die een sterk engel tel ‘n klip op en gooi dit in die see (die derde en laaste maal wat ‘n sterk engel in Openbaring optree, ‘sterk’ om die erns en finaliteit van sy boodskap te beklemtoon; in 5:2 vra ‘n sterk engel na iemand wat waardig is om die boekrol te open om God se beslissing oor die mensegeskiedenis uit te voer; in 10:1-2 bring ‘n ander sterk engel die klein boekrollejie vir Johannes om op te eet vir die verkondiging daarvan op die beslissende oomblik in die mensegeskiedenis (10:6). Die klip is (so groot en swaar ) soos ‘n maalklip, die boonste van die twee maalklippe met ‘n gat in die middel – Simson moes in die tronk die maalklip draai, wat gewoonlik deur ‘n dier of diere gedraai is (Right.21). Die sinkende klip is teken van die grote Babilon se ondergang, soos Jer 51:63-64 voorspel het. Dié simboliese visioen illustreer Babilon se val as deel van die beslissingsoomblik vir die mens.

Met ‘n reeks negatiewe, ‘nooit nie,’ word Babilon se lot geskilder: jy sal nooit weer gevind word nie; musiek sal nooit weer in jou gehoor word nie (Jes 24:8); geen ambag ooit weer in jou gevind word nie; geen meul (handel) meer bedags gehoor word nie; geen lamplig sal snags in jou skyn nie; geen huweliksvreugde gehoor word nie. Die nuwe Jerusalem word ook met negatiewe beskryf in 21:1,4: geen see meer nie, geen trane, geen dood, nie rou, gehuil, of pyn nie – die beperkings van hierdie skepping is nie deel van die nuwe skepping nie.

 

Drie redes word gegee vir Babilon se vernietiging:

i Met mag, weelde en rykdom wat deur uitbuiting en bedrog verkry is, paradeer die sakemanne as die magtiges van die aarde – met hulle ekonomiese baasspelerigheid.

ii Met betowering – bedrog en korrupsie – het Babel die nasies verlei (soos Isebel wat Tiatire tot onsedelikheid en afgodsdiens verlei het, 2:20; die duiwel is die verleier van die hele aarde, 12:9; die dier uit die aarde mislei die mense met wondertekens, 13:14). Babel mislei die nasies met haar toordery en bewelmende dranke om te glo sy is die alleenheerser en ‘n god wat aanbid moet word (18:7 Ek sit as koningin).

iii Sy is skuldig aan moord: ‘die bloed van profete en heiliges (gelowiges aan God toegewy) en ook van almal wat op die aarde doodgemaak is.’

 

Toe Openbaring geskryf is, het die stad Babilon reeds 230 jaar tevore in 141 v.C. onder die Parte heeltemal verval, maar ‘Babilon’ het ‘n spreekwoord geword as simbool van alle magsmisbruik, korrupsie en onsedelikheid in die wêreld, soos Sodom en Gomorra spreekwoorde geword het nadat hulle verdwyn het (vgl Jes 13:19). Hulle verdien God se regverdige oordeel omdat hulle, teen Hom en sy gesag in, hulle medemens verdruk en misbruik, en die aarde verniel. Om dié redes val Babilon van haar groot hoogte af, skielik, vinnig, soos die skouspel met die gedruis van ‘n groot meulsteen wat die diepte van die see in val. Die misleiding deur haar selfverhoging en die misbruik van haar mag het haar ingehaal, en toe sy wankel en in die diepte van die see neersink is sy met al haar weelde en prag permanent van die wêreld afgevee. Die oordeel word eers finaal voltrek met die wederkoms van Christus om te oordeel, maar deur die eeue het koninkryke en maghebbers gekom en permanent van die aarde af verdwyn.

Skrywer:  Prof Francois Malan