Die Openbaring aan Johannes – Die dier uit die aarde (13:11-18) – Francois Malan

13:11 Die dier wat uit die land opkom met twee horings wat ‘n lam naboots, maak dit moeilik om goed en kwaad te kan onderskei. Maar sy draakagtige stem openbaar sy vernietigende aard. Dié dier is ook bekend as die valse profeet (16:13; 19:20; 20:10). Soos Christus die woorde van die Vader aan die mensdom meedeel (Jn 7:16-18), is die vals profeet die mondstuk van die Satan.

 

13:12-15 Met sy twee horings is hy die teenbeeld van die twee getuies van hoofstuk 11. Terwyl die dier uit die see die valse Christus is, is die dier uit die aarde die valse Elia. Soos die twee getuies die wonders gedoen het wat Elia gedoen het (11:5,6; vuur afbid, en die reën laat ophou 1 Kon 18:38; 2 Kon 1:9-10) en soos Moses water in bloed verander het (11:6), so sal hierdie dier vuur uit die hemel laat afkom (13:13).

Met sy valse propaganda verlei hy die mense van die aarde tot aanbidding van die dier uit die see, wat Christus na-aap met sy swaardwond wat genees het. Soos Christus sy gesag van die Vader ontvang het (Mt 11:27), ontvang die dier uit die see sy gesag van die draak (Op 13:4), en soos die Heilige Gees Christus verheerlik (Jn 16:14), verheerlik die vals profeet die dier uit die see, die valse christus (13:12). Waar die dier uit die see die politieke mag is wat oorlog maak en verdruk, kom die dier uit die aarde, as die ekonomiese mag wat handel toelaat aan die gemerktes, die mensdom verlei om die draak, die godsdienstige mag, te aanbid.

Die dier uit die aarde mislei die mense om sy valshede as die waarheid te aanvaar. Hy laat hulle ‘n beeld van die dier uit die see maak, in wie hy asem blaas (in nabootsing van God; vgl. 11:11) en wat hy laat praat sodat hulle glo dat die aanbidding van hulle eie handewerk die manier is om God te dien (vgl. Eks 34:4-5 waar die goue kalf ‘die Here’ genoem word). [die beeld in die rooibaksteentempel van die god Serapis in Pergamum was hol, met ‘n ondergrondse gangetjie waarlangs die priester opgeklim het om deur die mond van die beeld te praat]. Dié mense wat weier om die beeld te aanbid, word doodgemaak (soos Nebukadneser vir Sadrag, Mesag en Abednego; Dan 3:6,11,15) sodat mense begin glo dat dit die laaste oordeel is.

Terwyl dié dier die norme en waardes van die Romeinse samelewing, hulle verleidelike sosiale, godsdientige en ekonomiese strukture verteenwoordig, simboliseer hy alle menslike strukture wat onafhanklik van God opgerig word, en enige godsdienstige sisteem wat vyandig is teen die geloof in Jesus Christus.

 

13:16-17 Die dier verplig alle mense om gemerk te word op hulle voorkoppe, wat hulle innerlike toewyding en denke aandui, en op hulle regterhande wat die praktiese uitoefening van hulle toewyding aan die dier, aandui. Dit staan teenoor die seël op die gelowiges se voorkoppe (7:3-4; 9:4; Eseg 9:4). Soos die seël God se kinders identifiseer as syne en hulle beskerm teen die oordeel (9:4), beskerm die merk van die dier uit die see mense teen ekonomiese en sosiale uitsluiting. Dit is nie ‘n letterlike merk nie, maar verteenwoordig die mense se lojaliteite, besluite en toewydings.

 

13:18 Die merk op hulle voorkoppe en regterhande dra die naam van die dier, of die getal van sy naam wat identies is met sy naam. Dit is die getal van ‘n mens (of:’n menslike getal) nl. seshonderd-ses-en-sestig. (baie verklarings is al vir die 666 gegee). Dit is waarskynlik ‘n simboliese getal waar 6 net een tekortskiet op die volmaakte getal 7 van God omdat hulle self god wil wees. So slaag die draak, die dier uit die see, en die dier uit die aarde, met 666, nie om soos God volmaak te wees nie: 777 vir die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is vir die bose drie-eenheid onmoontlik om die Heilige Drie-eenheid te vervang – dít is die wysheid wat nodig is om die bedrieglike en dierlike aard van die 666, bose drie-eenheid, te verstaan, sowel as die selfverheerlikkende magte en strukture van die samelewing wat hulle perke oorskrei en die ware Godheid probeer vervang. As mense en menslike instansies probeer om soos God te wees en lojaliteit vereis wat aan God alleen toekom, word hulle dierlik in denke en optrede. Met die beeld van die dier uit die aarde waarsku Johannes teen kompromieë en vereenselwiging met die waardes, norme en gelowe van die sekulêre kultuur. Navolgers van Jesus lewe nie vir hulleself nie, maar om ander in liefde te dien.

Skrywer:  Prof Francois Malan