Die Openbaring aan Johannes – Die gelowiges as God se getuies in die eindtyd (10:1-11:13) – Francois Malan

Die twee getuies (11:3-13)

Die paradoks van ‘n kwesbare en tog beskermde gemeenskap van gelowiges word beskryf met die beeld van die twee getuies wat onoorwinbaar is en tog oorwin word. Die twee word saamgestel uit Ou-Testamentiese tipes. Hulle primêre funksie is om te getuig (11:3,7) en te profeteer (11:3,6,10). Hulle taak word opgesom deur hulle beskrywings as twee olyfbome, twee lampstaanders, twee profete (11:4,10), met klere van sak (11:3), ‘n vuur uit hulle monde as wapens (11:5), en deur hulle dood en opstanding in die simboliese stad (11:7-10).

 

Daar is twee getuies, soos vereis in Deutr. 19:15 (Joh 8:17). Hulle verteenwoordig die getroue kerk as God se getuie in die wêreld. Die twee olyfbome is die oorvloedige bron van olie vir die twee lampstaanders (vgl. Sag 4:2-4,6,10,11-14). Ten spyte van dreigemente is die kerk se getuienis nie in gevaar om uitgedoof te word nie.

 

Die klere van sak verteenwoordig rou oor die geestelike toestand van die mense op aarde (soos Jakob oor Josef se ‘dood’ gerou het; Gen.37:34); die Nineviete dra sak as teken van berou (Jona 3:5-6); die met sak oordekte son rou oor die onbekeerlike mensdom wat sy rug op God en sy gebod gedraai het (6:12; 9:20-21). Die twee getuies rou oor die mense op aarde en roep hulle tot bekering (11:13).

 

Die kerk se tyd vir getuienis stem ooreen met die tyd waarin die heilige stad vertrap word (11:2-3: 3½ jaar), so lank as wat die vrou in die woestyn beskerm word (12:6,14) en met die tyd van die dier se regering (13:5). Vervolging en beskerming, getuienis en teenstand, is twee kante van dieselfde munt gedurende die simboliese periode van ‘n halwe, ingekorte sewe jaar.

 

Die bedieninge van Moses en Elia vind weerklank in die twee getuies se getuienis: Elia het vuur op sy vyande afgebid (2 Kon 1:10,12), en die hemel toegesluit (1 Kon 17:1; Jak 5:17); Moses het die Nyl in bloed verander (Eks 7:20). Die vuur kom egter uit die twee getuies se monde. Hulle woorde is soos vuur wat die sonde van hulle hoorders verteer (11:5). Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete, God se woord in die Skrif. So is die twee getuies, wat die kerk verteenwoordig, die getuies van God se woord van verlossing, maar ook van oordeel oor ongehoorsaamheid. Volgens Lk 3:25 en Jak 5:17 het die droogte in Elia se tyd 3½ jaar geduur (1 Kon 18:1 omtrent drie jaar) , wat die helfte van die volle sewe jaar straf sou aandui, en deur die Here verkort word (vgl Mt 24:22 oor God se ingekorte oordeel) totdat die Here vir Elia na Agab gestuur het omdat die Here dit weer wou laat reën (1 Kon 18:1).

 

11:7-10 Maar die getuies is kwesbaar en die dier van 13:1, die antichris, in diens van die draak Satan, maak oorlog teen hulle en maak hulle dood (11:7). Aan die dier is volmag gegee om die kerk 3½ jaar te vervolg en te oorwin, maar die verseëldes sal hom nie aanbid nie (13:5,8). So lyk die getuienis van die kerk: as die evangelie verkondig word, is daar teenstand, soos met Jesus se bediening. Die wêreld, beskryf met vier woorde: volke, stamme, tale, nasies (11:9), vier fees oor die dood van die getuies wat vir hulle gefolter het (11:10). Die mensdom juig oor die stilmaak van die kerk se getuienis, maar die wêreld se vreugde is nie waarlik blywende vrede wanneer die getuies weer opstaan nie (11:11-13). Van onder af gesien lyk dit of die wêreld triomfeer, maar van Bo gesien verteenwoordig die getuienis en dood van die getuies God se soort triomf in die wêreld, soos met Jesus se verhoging aan die kruis as die verheerlikking van God en Christus se liefde vir die wêreld (Joh 12:32-33).

 

Die getuies se lyke lê onversorg en geminag in die straat van ‘die groot stad,’ simbool van die inwoners se selfgenoegsaamheid sonder God (die groot stad word nog 7x in Openbaring genoem: Een maal vir dié Jerusalem ‘waar die Here gekruisig is,’ en 6x as Babilon waar die dier regeer). Hier word ‘die groot stad’ geestelik genoem Sodom (simbool van boosheid) en Egipte (simbool van slawerny). Daarteenoor staan die nuwe Jerusalem, die plek van harmonie, orde en vrede, waar God en die Lam regeer. Die perspektief van Bo word aan die einde ‘ook so op aarde’: ‘U Naam geheilig, U koninkryk kom, U wil geskied, op die aarde soos in die hemel (Mt 6:10; Openb 21:10) .

 

Die drie en ‘n half dae (11:9,11) is dieselfde as die 3½ maande (1,260 dae) van 11:3, ‘n aanduiding van ‘n bepaalde beperkte tyd vir die kerk se gesagvolle woord en kragtige stem, maar in hierdie tussentyd tot die wederkoms word die kerk ook plat geslaan, op getrap en doodgemaak, soos met Jesus gemaak is.

 

11:11-13 Na die tyd van vervolging word die twee getuies opgewek: ‘die gees van lewe uit God het in hulle ingegaan en hulle het op hulle voete gestaan’ (vgl. Eseg 37:5,10) , en hulle vaar na die hemel in ‘n wolk, op die luide roep uit die hemel (vgl. Jesus se hemelvaart; Elia 2 Kon 2:11, Moses Deutr 34:5-6). Op daardie oomblik is daar ‘n groot aardbewing wat ‘n tiende van ‘die groot stad’ Babilon inmekaar laat stort, en 7,000 van die 70,000 (‘n tiende van die volle getal van die bewoners op aarde) dood – in Jes 6:13 en Amos 5:3 word nege-tiendes doodgemaak, en in 1 Kon 19:14-18 het 7,000 uit die hele volk geweier om Isebel se Baäl te aanbid – ‘n simboliese getal wat die volle getal van die getroues aandui.

Die mense se reaksie op die opwekking word beskryf met ‘n groot vrees wat hulle oorval’ (v11), ‘hulle vyande kyk hulle (die opvaderende getuies) stip agterna’ (v12), ‘die res het vreesbevange geword en aan die God van die hemel heerlikheid betoon (v13). Reaksies wat die plae nie kon bewerk nie, bewerk God deur die getuienis en lotgevalle van sy kerk, want die plae getuig slegs van oordeel, en nie ook van God se genade, dat Hy graag vergewe as die mense berou het nie. Tertullianus (oorlede 220 n.C.), het gesê: die bloed van die martelare is die saad van die kerk. Stefanus se dood werk mee tot Paulus se bekering en wye bediening as God se uitverkore instrument, en later sterf Paulus ook vir Christus (vgl. Hand 9:15; Flp 3:10).

Skrywer: Prof Francois Malan