Die Openbaring aan Johannes – Die vyfde tot die sewende seël word oopgebreek (6:9-17) – Francois Malan

6:9-11 Met die oopbreek van die vyfde seël word die tempo stadiger, en die toneel verskuif van die aarde na die hemelse altaar, vanwaar die ‘siele’ van dié wat geslag is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het, uitroep – die woord ‘siel’ wat vir die mens se innerlike wese, gedagtes en gevoelens, gebruik word, word dikwels in die Bybel vir ‘n persoon as ‘n lewende wese gebruik, soos hier. Hulle wag op ‘n antwoord vir hulle teologiese raaisel, wanneer die heilige en ware Alleenheerser hulle bloed sal wreek en die aardbewoners sal oordeel – daarmee erken hulle God se regverdigheid. Hulle vra hoe lank hulle nog moet wag totdat God hulle getroue getuienis bekendmaak as die regte weg, naamlik die kruisweg van God se liefde wat die bose oorwin en ook die onreg op aarde. Hulle moet daarvoor nog ‘n kort rukkie wag, totdat die volle getal gelowiges daar is. Hulle dra egter reeds ‘n wit stola, ‘n simbool van hemelse heerlikheid en van hulle oowinning oor die bose (vgl 3:5). Hulle is ‘wit gemaak in die bloed van die Lam’ (7:14).

Hier is die eerste van agt verwysings in Openbaring na die altaar, hier as ‘n toevlugsoord vir die martelare naby die troon van God, ‘n rusplek na hulle stryd – dit is die hemelse teenbeeld van die onbewoonde woestyn vir die vervolgde kerk op aarde, in 12:6,14. Hulle ‘rus ‘n bietjie’ is die gevolg van die gelowiges op aarde se volharding en uithou teen Babilon se verleidings (1:9; 2:2,3,19; 13:10; 14:12). Die gelowiges op aarde word genoem: mede-slawe (vir wie God gekoop het as sy eiendom) en broers (medegelowige kinders van God).

6:12-15 Die oopbreek van die sesde seël merk die laaste dag, die dag van die Here, wanneer die orde van die skepping aan die begin omgekeer word tot chaos (vgl. Jes 13:9-13; 24:19-23; Mark 13:24). Die hele aarde en die hele skepping word tot in elke onderdeel geskud. Dit is egter nog nie die einde nie, maar die voorlaaste tyd, voor die finale aanbreek daarvan met die oopbreek van die sewende seël. Terwyl die skepping in morele chaos verval as gevolg van die mens se weerstrewigheid en sondigheid, word die aankondiging van Christus se koms vertraag vir nog ‘n paar hoofstukke. Maar die verhoog is skoongewas vir die nuwe skepping bo-oor die morele chaos. Omdat die mense hoogmoedig is en weier om die Skepper te erken is daar chaos. Daarom moet die mensdom eers gebring word tot erkenning van God voordat die nuwe orde moontlik word met die koms van God en die Lam.

Die omwentelings in die hele skepping is ook simbole van wat in die samelewing plaasvind. Die groot aardbewing wat die aarde skeur, is die uiterlike teken dat die wêreldorde met die belange van menslike instellings en magte teen God, onherstelbaar in stukke gebreek is. Die son trek rouklere (harige sakmateriaal) aan as teken van rou oor die morele verval van die wêreld. Die maan se onnatuurlike rooi glans soos van ‘n sirkusnar is sinnebeeld van die onderstebo wêreld wat in chaos ontbind. Die sterre, wat soos vrugte in die winter afval, simboliseer die wêreld wat van God as sy anker losskeur (Mark 13:24). ‘n Hemelruim wat soos ‘n boekrol oprol (Jes 34:4) met stewig gevestigde berge en eilande wat begin dryf, is metafore vir die morele, geestelike en fisiese ontbinding van die aarde. Die korrupsie op aarde gaan saam met die verswakking en verplasing van die hemelliggame. Die gebroke skepping en sy gebroke mensdom het herstel deur Christus dringend nodig.

6:16-17 Die mense reageer wanhopig. Die ganse mensdom, van konings tot slawe (7 tipes word in 6:15 genoem om volheid aan te dui) soek ironies hulle toevlug in ‘n wêreld wat vinnig besig is om te ontbind. Uit vrees vlug hulle in grotte en onder kranse in (vgl. Jes 2:19,21); hulle roep na die berge en heuwels om hulle te bedek (vgl. Hosea 10:8). Almal, lewendes en die wat reeds dood is, moet voor die lewende God verskyn om die finale oordeel te hoor (Openb 20:11-14).

Die konings van die aarde het volgens Openb 17:12-13 hulle mag en gesag tot die antichris se beskikking gestel, en is daarom simbole vir die goddelose maghebbers; die uitvoerende amptenare voer die konings se bevele uit; die generaals verteenwoordig die miliêre gesag; die rykes regeer die Romeinse Ryk deur hulle invloed en middele; die magtiges wat die toon aangee, is ‘n samevatting van die eerste vier groepe; ‘elke slaaf en vrymens’ is die laer groepe in die samelewing. Alle sosiale onderskeidings val weg wanneer God se eindoordeel die goddeloses tref..

Soos Adam en Eva probeer hulle om hulle naaktheid vir God weg te steek (Genesis 3:8). Vir hulle is die Lam se oorwinning ‘n teken van God se toorn (v16). Die woord ‘toorn’ (wraak) druk God se regverdige toorn oor die goddelose wêreld uit (vgl. Op. 16:1,19; 19:15). Sy toorn is God en die Lam se ‘hartseer;’ hulle verwonde liefde vir die mense wat hulle rug op God en die Lam gedraai het (vgl. Joh 3:36). Die vraag is: wie kan die toorn van God weerstaan? (vgl. Maleagi 3:2 en Joël 2:11). Hoofstukke 2-3 het gewys wat gedoen moet word om dit vry te spring. Hoofstuk 7 sal wys wie sal stand hou op die groot dag van die Here se oordeel, en wat die kerk se rol is in die gebeure wat daartoe lei.

Skrywer:  Prof Francois Malan