Die Openbaring aan Johannes – Jesus kom oordeel (22:12-14) – Francois Malan

22:12-19 is Jesus se slotwoorde. Dit word in sewe uitsprake weergegee.

22:12 Die uitspraak van 22:7 word herhaal: ‘Kyk, Ek kom gou!’ Openb 1:1,7 het begin met ‘wat binnekort (gou) moet gebeur…Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien..’ Die dringendheid van die wederkoms word beklemtoon deur die nabyheid daarvan telkens voorop te plaas, sodat die lesers te alle tye gereed sal wees met blye verwagting op die koms van die bruidegom (Mt 25:1-13).

En die beloning (misthos betaling na verdienste) is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon vir goeie of slegte gedrag, beloon of vergeld:

Openb 3:11 praat van jou oorwinnaarskrans (stefanos) vir die gemeente Filadelfia wat Hom nie verloën het nie; Jesaja 40:10 lui letterlik: sy loon (sakar) is by Hom en sy vergoeding (pe‘ullah) is voor Hom. Dit word gesê aan die ballinge in Babel oor hulle verlossing en terugkeer na Jeruslem. Die loon van 22:12 is vir die volgelinge van Christus om vir ewig volmaak saam met Christus te wees in die nuwe Jerusalem.

In Openb 2:23 sê die Here vir dié in Tiatire wat die vrou Isebel volg: Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade; Ps 24:4 bid om die vergelding van die goddelose mense ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede…laat hulle kry wat hulle verdien. Jer 17:10 Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand. Ek laat die mens kry wat hy verdien, vir wat hom toekom vir wat hy doen.

Met die finale oordeel kom Christus alles in die skeppng op hulle regte plek sit, waar hulle hoort. Vir sy volgelinge wat volhard in geloof en vertroue op Hom, beteken dit die ewige lewe van vreugde in die ewige teenwoordigheid van God (22:4). Vir ongelowiges is dit ‘n verskrikking om vir ewig sonder God te wees, oorgegee aan mekaar se begeertes, verwerplike denkwyses en onbetaamlike optredes (Rom 1:24,28).

22:13 Christus se uitspraak oor Homself as die Alfa en die Omega, soos in 1:17 (vgl. 2:8) word ook deur God van Homself gesê in 1:8 en 21:6. By God het alles begin en by God word alles voleindig. Dit kom reeds van Jes 44:6 af: Ek is die eerste en die laaste, buiten My is daar geen God nie (vgl Jes 41:4; 48:12). As die Woord van God het Christus die eerste woord met die skepping gespreek (Gen 1:2; Jn 1:3,10; Hand 17:28; 1 Kor 8:6; Kol 1:16; Hebr 1:2; Op 3:14), en spreek Hy ook die laaste woord oor die ou skepping en die begin van die nuwe skepping. Hy is anders as al die skepsels, ewig. Alle dinge bestaan deur en tot Hom en die Vader, as die sin van hulle bestaan, vir wie hulle lewe.

Die Vader oordeel niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee (Jn 5:22). Daarom oordeel Hy oor alle dinge, en beloon Hy ook elke mens volgens wat hy/sy gedoen het. God het alles (die ganse skepping) onder sy voete gestel en Hy het Hom as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal (in al sy volgelinge) vervul (Ef 1:22-23) – Hy vervul ons met sy liefde, sy blydskap, sy vrede….(vgl. die 9 aspekte van die vrug van die Gees in Gal 5:22-23).

22:14 Die sewende en laaste seën is ook vir dié persone wat deur hulle lewe besig is om hulle stolas vir die hemel te was – hulle lang togas, wat hulle as volgelinge van Jesus en kinders van God aandui. In 7:14 is gesê dat hulle die vuil van hulle vorige bestaan wit gemaak het (gereinig het) in die bloed van die Lam. Dit dui op ‘n daaglikse reiniging deur ‘Ons Vader’ op die 5e versoek van Lk 11:2 ‘vergeef ons (elke dag) ons sondes…’; Mt 6:12 ‘vergeef ons (daagliks) ons skulde…’, en Joh 13:10 ‘iemand wat gebad is (deur Jesus), het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is.’ Joh 15:3: Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het – deur in Jesus te glo as die Here wat oor jou lewe regeer met sy woord, bewys jou geloof in Hom dat jy deur Hom skoon gewas is aan die kruis (vgl. Openb 3:4,18).

Adam en Eva het in die tuin van Eden gebly waar die boom van die lewe is, maar het nie die reg gehad om daarvan te eet nie. Mense wat deur geloof in Jesus aan Hom verbind is, het die reg/volmag om die nuwe Jerusalem in te gaan en van die boom van die lewe te eet – ‘n simbool dat hulle die ewige lewe het (Jn 3:36), en die reg het om kinders van God te word (Jn 1:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan