Die Openbaring aan Johannes – Laodisea (3:14-22) – Francois Malan

In die Likusrivier se vallei lê die ruïnes van drie ou stede naby mekaar: Hierapolis (Pammukale) en Kolosse aan die oostekant, en Laodisea (huidige ruïne Eski-hisar ‘ou fort’) 17km. wes van Kolosse en 10 km. suid-wes van Hierapolis (die drie gemeentes is waarskynlik deur Paulus se volgeling Epafras gestig (Kol. 1:7; 4:12-13). Antiogus II van Sirië het die stad in 250 v.C. gestig as die poort na die provinsie Frigië, dit bevolk met Siriërs en Jode uit Babilonië, en die stad genoem na sy suster en vrou Laodike. Laodisea se lou kalkwater word met pype, wat uit klip gekap is, 10km. vanaf Denizli gelei en tot op die heuwel, waarop die stad gebou is, gehewel. Dit was ‘n groot sentrum van die klerebedryf met wol van die omgewing se skape. Die mediese sentrum van die Kariese god Men is na die stad toe verskuif waarvandaan hulle ook beroemde genesende salf vir ore en oë versprei het. Dit was ‘n ryk stad met banke waar geld omgeruil kon word, en wat sonder hulp van die Romeinse regering die stad herbou het na sy verwoesting deur die aardbewing van 61 n.C.

3:14 Aan die ‘engel’/boodskapper van die gemeente stuur die ‘Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping,’ die boodskap. Die Hebreeuse ‘Amen’ bevestig wat gesê word (Ps 41:14 waarmee die eerste bundel in psalms afgesluit word). Daarmee dui Jesus sy gesaghebbende goddelike uitsprake aan: amen, amen – voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle (Joh. 1:51 en nog 26 maal in die Johannes-Evangelie). Christus se woord is betroubaar en gesaghebbend. Jesus is die voorbeeld van ‘n getroue en ware getuie (martus); Antipas wat met sy lewe daarvoor betaal het, word ook so genoem in 2:13. So word die gelowiges opgeroep om enduit getroue getuies te wees – dit teenoor Laodisea wat lou geword het. ‘Die begin (arche) van God se skepping’ en sy herskepping – arche dui ook die oorsprong daarvan aan, en die regeerder oor die skepping en die kerk (vgl.; Joh. 1:2-3; 1 Kor. 8:6; Kol. 1:15-16 en Jes. 65:17 en Hy regeer ook oor die skepping van die nuwe aarde; Ef. 1:22 as hoof oor alles.)

As die sewende gemeente is dit ook die klimaks van die sewe briewe – soos die sewende seël, die sewende trompet, en die sewende bak met die toorn van die Here, telkens die klimaks aandui. Dit som die gevare in al sewe die gemeentes op, en ook die belonings wat vir die getroues wag. Dit skep ook die verwagting op die baie omsettings in die hele boek: rykes word arm, en armes word ryk deur hulle ‘dure getuienis.’

3:15-16 Die Here ken sy/hulle dade wat nòg koud nòg warm is; was hy tog maar koud of warm! Omdat hy louwarm is gaan die Here hom uit sy mond spoeg. Laodisea se buurdorp Hierapolis se bronne het warm water, nuttig om in te bad en te was, en Kolosse het koue bergwater, bruikbaar as drinkwater. Maar Laodisea se louwarm kalkwater is ‘n beeld van die leier en gemeente se nutteloosheid en onbruikbaarheid vir die Here. Daarom dreig die Here om hulle uit te spuug soos iemand wat naar is, as ‘n sprekende metafoor vir die Here se uitskakeling van die gemeente, uitgespuug uit die liggaam van Christus. Hierdie dreiging is ‘n laaste waarskuwing om hulle lewe voor God reg te stel. Hulle grootste gevaar is hulleself, hulle selfingenomendheid:

3:17 Die rede vir hulle louwarmheid word uitgespel: Omdat jy sê: ‘Ek is ryk, ek het skatryk geword en ek het aan niks gebrek nie,…’– die driemaal ‘ek’ beklemtoon die leier en gemeente se selfgenoegsaamheid; uiterlik ‘n ryk en selfversekerde gemeente (vgl. Babilon se innerlike verwaandheid met drie ‘ek’ stellings in 18:7) . Hulle het hulle materiële voorspoed aanvaar as ‘n teken en bewys van hulle geestelike ‘voorspoed.’ Dit kan egter ‘n masker wees vir geestelike bankrotskap. ‘…en jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm en blind en naak is nie’ – die kontras tussen voorkoms en werklikheid, ‘jy sê…jy besef nie,’ is ‘n opsomming van die hele boek Openbaring. Uiterlike voorkoms is misleidend en kan ‘n onsigbare realiteit bedek. Die enigste uitweg uit die dilemma is ‘n visie van Bo-af wat die krisis ontleed en genesing en herstel voorsien.

‘ellendig’ – (uit den lande – beskryf iemand as vreemdeling sonder burgerskap, ontredderd in ‘n vreemde land; die Griekse woord talaípooros verwys letterlik na die ellende om ‘n swaar klip rond te dra) – in Rom. 7:24 roep Paulus uit: Ek ellendige mens, wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan van die stryd tussen goed en kwaad in my – en Paulus se oplossing vir sy ellende: Aan God die dank: deur Jesus Christus ons Here.

‘bejammerenswaardig’ – of pateties, kom in die NT nog net in 1 Kor. 15:19 voor vir mense wat hulle hoop slegs vir hierdie lewe op Christus vestig en nie vir die ewigheid nie – wat hulleself uitgesluit het uit die ewigheid.

Die betekenisse van die ander drie beskrywings moet uit die stad se agtergrond gesien word en volg uit hulle geneesmiddels (vervolg in die volgende studie).

Skrywer:  Prof Francois Malan