Die Openbaring aan Johannes – Lofliedere oor die val van Babilon (19:1-8) – Francois Malan

Die eerste tien verse van hoofstuk 19 bevat die gootste aantal lofliedere in hierdie boek. Die vier Halleluja’s in hierdie gedeelte (18:1,3,4,6) is die enigste kere wat die woord halleluja in die Nuwe Testament voorkom. Die Hebreeuse woord hallelu-ja (‘prys Jahwe/die Here!’) is ‘n samestelling van hallelu ‘julle moet prys’ + Jah vir ‘Jahweh’ – die ‘Ek is’( in Afrikaans ‘die Here’).

 

19:1-5 Lofliedere vir die Here deur die hemelse skare

Die eerste lied deur die groot skare verlostes in die hemel, klink soos ‘n luide klank van baie waters. Hulle prys ons God vir sy verlossing, heerlikheid en krag. Sy verlossing is die uitvoering van sy vaste besluit om die skepping te verlos van die sonde en die dood waarin die mens die skepping gedompel het deur sy sonde. Die Here verlos ons deur self te kom sterf vir die sonde en op te staan uit die dood; sy heerlikheid is sy liefdesaktiwiteit om die wêreld vir Hom terug te wen met die hoogste liefdesoffer van die Seun; sy krag is sy liefdeskrag om sy mense te verlos uit die kloue van die groot prostituut, hulle wat in die nuwe eksodus (uittog) op pad is na die huweliksmaal van die Lam.

Twee redes word gegee vir die vreugdevolle lofprysing: (i) sy oordele oor Babilon se onsedelikheid en moord is waar en regverdig (16:7). Deur haar immoraliteit het die groot prostituut die bewoners van die aarde korrup gemaak, sodat mense sonder waarheid en regverdigheid lewe. (ii) God het die groot stad, wat die aarde veronreinig het met haar valse en immorele optrede, geoordeel volgens haar dade. God het daarmee ook die bloed van sy gelowiges gewreek, soos wat hulle om regverdigheid geroep het in 6:10.

 

19:3 Met die tweede halleluja verheug die skare hulle oor die neerlaag van die magtige Babilon, waarvan die rook vir ewig opstyg – die boosheid met al sy geweld en verleiding is vir ewig verwyder uit die samelewing.

19:4 Die 24 ouderlinge, wat al die gelowiges van die Ou-Testamentiese tyd en Nuwe-Testamentiese tyd verteenwoordig en die 4 lewende wesens wat die hele skepping verteenwoordig, verskyn vir die laaste maal in die boek en voeg hulle lof aan die Here by, by die voorgaande halleluja’s (soos hulle in 18:20 opgeroep is). Hulle het neergeval en God aanbid (letterlik met die gesig teen die grond). Die twee stappe onderstreep hulle adorasie/verering van God, wat hulle met ‘n dubbele seënbede uitspreek: Amen! (waarlik, ‘n sterk bevestiging van wat verklaar word) Hallelu-ja! (ons prys-Jahwe, die ‘Ek is’). Hy is die aktief teenwoordige ‘Ek is’ wat die bose oorwin het, hulle daaruit verlos het deur hulle met geloof aan Jesus en sy oorwinning te verbind, en só hulle verhouding met God reg te maak (hulle geregtigheid voor God).

19:5 ‘n Stem van die troon af (waarskynlik die Lam se stem) gee opdrag aan al God se dienaars (wat aan Hom behoort), hulle wat vir ‘ons God’ ontsag het en Hom dien, uit alle lae van die samelewing, ‘die kleintjies (onbelangrikes) en die grotes (belangrikes).’ ‘Prys ons God!’ – verkondig die voortreflikheid van die Skepper en Onderhouer van die heelal.

(Sommige verklaarders sien hierdie as die mense wat nog op aarde lewe teenoor die skare in die hemel van vers 1. Die 24 ouderlinge en 4 lewende wesens van vers 4 verteenwoordig egter al die gelowiges en die hele skepping, en vers 5 word gerig aan al God se dienaars, wat ook dié wat reeds in die hemel is kan insluit, en die beskrywing in v6 klink na ‘n groter getal as in 19:1).

19:6-8 Die derde loflied in hierdie afdeling word gesing deur ‘n groot menigte wat drie beskrywings nodig het om die oorverdowende klank te beskryf: soos die klank van ‘n groot skare, soos die klank van baie waters, soos die klank van swaar donderslae, selfs groter as die skare van 19:1. Hulle word nie geïdentifiseer as in die hemel of ook op die aarde nie. Hulle sing die vierde halleluja. Dit is ook die laaste halleluja in die Nuwe Testament:

Die rede vir die loflied: ‘Die Here, ons God, die Almagtige, het die koningskap opgeneem (begin uitoefen)’ (vir ‘die Here regeer’ vgl. 1 Kron 16:31, in die loflied van Asaf wat Dawid vir die eerste maal laat sing het met die inbring van die ark in Jerusalem; ook Ps 96:10; en Eks 15:18 in Moses se lied ná die deurtog deur die Rietsee). Die driedelige titel ‘Here, God, die Almagtige’ kom sewe maal in Openbaring voor (1:8; 4:8; 11:17; 15:3; 16:7; 19:6; 21:22). Here met bonatuurlike gesag oor die hele skepping; God as Skepper en Onderhouer van die heelal; Almagtige (pantokratoor) met heerskappy en beheer oor alles (alle mense en dinge).

Die toejuiging deur die geweldige groot skare word gevolg deur drie oproepe deur hulle: laat ons bly wees, en jubel (verruk met groot blydskap) , en aan Hom die heerlikheid gee (sy Goddelike grootheid en optrede erken en bely).

Die rede vir die oproepe: ‘want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar gereed gemaak.’ Die beeld van die huwelik aan die een kant, en die onwettige verhouding met die prostituut aan die anderkant, beklemtoon die keuse in Openbaring: om die Lam te volg en deel te wees van sy bruilofsfees, of om die dier en Babilon op pad na vernietiging te volg.

Die bruid (die kerk) se drag verskil van die prostituut s’n. Die bruid se klere word aan haar geskenk. Hoewel die bruid fyn linneklere aantrek, soos die prostituut (18:16), is die bruid se klere blink-skynend (lampros, wat deur ‘n ligbron verlig word) en suiwer. Soos die paar mense in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie (3:4) het die bruid nie haar klere besoedel deur kompromië met die heersende kultuur nie. Soos die nuwe Jerusalem se strate skoon en blink is soos deurskynende glas as simbole van morele en geestelike reinheid (21:21), so simboliseer die bruid se vleklose klere haar geestelike en morele reinheid. Haar uitelike voorkoms weerspieël haar wese – getrouheid, reinheid, noue verbondenheid met God en daarom stralend van geluk. Die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges – hulle het geweier om aan Babilon se norme, waardes en geloof, die wêreld se druk en verleiding toe te gee (vgl. 2:10 getrou tot die dood onder verdrukking; 2:13 nie jou geloof in My ontken nie selfs toe Antipas vermoor is nie; 13:10 volharding in die tronk en vermoor; 14:12 volhard met God se gebooie en geloof in Jesus; 17:14 geroepenes, uitverkorenes en getroues oorwin met die Lam).

Die kerk, in ballingskap in Babilon, verloor nie hulle identiteit as God se volk nie, want hulle hou vas aan die getuienis oor en deur Jesus (19:10; vgl. 1:2,9; 12:17; 20:4) en is daarom stralend as die lig vir die wêreld (Mt 5:14). Hierdie fyn klere van die bruid, haar geregtigheid voor God, is deur God aan haar gegee (19:8 edothe passief is gegee’). Hy stel haar in staat om regverdige dade te doen deur Jesus se nuwe wet te volg: Jn 13:34 julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

In die Ou Testament word Israel God se bruid genoem vgl. Hosea 2:18; Jes 54:5; vgl. Eseg 16:7-14 ook vir haar klere en juwele wat die agtergrond is vir Openbaring se bruidsklere; ook in die Nuwe Testament: Jn 3:29, Johannes die Doper verwys na Hom as die bruidegom van die bruid; Mk 2:19-20: Jesus noem Homself die bruidegom; 2 Kor 11:2 noem die gemeente ‘n reine maagd vir die bruidegom; Op 21:2 die nuwe Jerusalem as die bruid; Op 22:17 die gemeente as sy bruid.

Skrywer:  Prof Francois Malan