Die Openbaring aan Johannes – Migael en die draak (12:7-12) – Francois Malan

Die gedeelte oor die oorlog in die hemelruim word hier ingevoeg tussen die twee gedeeltes oor die vrou en die draak se stryd (12:1-6 en 12:13-18). Dit verskaf die perspektief op die kerk se stryd op aarde van Bo af gesien. Geweldstaal beklemtoon die konflik tussen goeie en slegte karakters. Die woord ‘oorlog’ kom hier 4x voor: 3x in 12:7; 1x in 12:17. Vier maal word gesê ‘hy is neergegooi,’ (12:9 2x, 10,13) ‘n passiewe werkwoord wat aandui dat dit God is wat die Satan verslaan het. Die draak en sy engele het nie meer ‘plek’ in die hemel nie (12:8), en sonder sy plek verloor die Satan (teenstander/aanklaer) sy reg om ‘n ‘aanklaer’ te wees (12:10). Die woord ‘aanklaer,’ soos in ‘n hof, kom net hier in die Nuwe Testament voor.

 

12:7-9 Die draak en sy engele is oorwin en uit die hemel gegooi – soos sy stert ‘n derde van die engele op die aarde neergegooi het. Jesus sê aan sy dissipels, wat bly is dat die demone hulle aan hulle onderwerp het op grond van sy Naam: Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val…maar wees liewer bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is (Lk 10:17-20). Satan het nou slegs beperkte mag op die aarde.

(Volgens die Joodse oorlewering is die Satan in die oertyd uit die hemel uitgegooi en het God se magte hom oorwin). Al is die Satan die ‘god van hierdie wêreld’ (2 Kor 4:4), is hy ‘n verslane god. Volgens Openbaring is Satan by drie geleenthede verslaan: (i) in die oertyd is hy uit die hemel uitgeskop, (ii) met Jesus se kruisiging en opstanding is sy geleentheid om die gelowiges aan te kla afgesny want Jeus het reeds hulle straf gedra; (iii) met sy finale vernietiging wanneer hy en sy volgelinge in die ewige vuurpoel gegooi word (Openb 20:10).

In Daniël 10:13,21; 12:1 is Migael (‘wie is soos God’) die hoofprins van die hemelse leër, wat Israel altyd teen sy vyande beskerm. In Judas vers 9 veg hy teen die Satan oor die liggaam van Moses. Judas 9 stel die nederigheid van die hoof-engel Migael teenoor die selfverheffing van die dwaalleraars wat die heerskappy van die Here Jesus Christus verwerp (v4), en alles wat hulle nie ken nie, belaster (v10). Die insident waarna v9 verwys kom uit die Joodse oorlewering wat in die apokriewe boek die Hemelvaart van Moses beskryf word. Daarvolgens moes Migael ‘n stryd gevoer het met Satan oor die liggaam van Moses (volgens Deutr. 34:5 het die Here egter vir Moses begrawe en niemand het die graf gevind nie). Die Joodse oorlewering het geglo dat as ‘n vrome sterf kom die engele hom/haar haal, en as ‘n sondaar sterf kom die duiwel se handlangers hom/haar haal. Satan sou gesê het Moses behoort aan hulle omdat hy die Egiptenaar doodgeslaan het en dus ‘n moordenaar is (Eks 2:12). Migael het egter die Satan weerstaan en nie die oordeel van God vooruitgeloop nie, maar dieselfde woorde gebruik waarmee die Here die Satan bestraf het in Sagaria 3:2. Daarmee het Migael die eer aan God gegee.

 

Satan se name beskryf sy aard: die groot draak (wat Johanes in die lugruim gesien het, 12:3), die slang van weleer (wat vir Eva en Adam verlei het, Gen 3), duiwel (lasteraar), satan (teenstander/aanklaer), die verleier van die hele wêreld – ‘verleier’ beskryf die duiwel (20:3,8,10) en ander bose karakters: Isebel wat die Here se diensknegte in Tiatira verlei (2:20), die dier wat die bewoners van die aarde verlei (13:14; 19:20), die onsedelike stad Babel se afgodediens wat deur haar betowering die nasies mislei (18:23).

 

12:10-12 die loflied van ‘n harde stem in die hemel interpreteer die betekenis van die oorlog in die hemel. Die oorwinning van die oorlog tussen Migael en die Satan word behaal aan die kruis en deur almal wat deur geloof aan die dood en opstanding van Jesus Christus deel het en van sy oorwinning getuig deur hulle lewe en woorde en selfs hulle dood. Die loflied word in drie dele aangebied: v10 verkondig God en sy Christus se oorwinning en die aanbreek (‘nou’) van die nuwe tyd van verlossing. Die aanklaer van die gelowiges kan hulle nie langer voor God aankla nie, hulle lewe nou onder God se heerskappy, oorgegee aan Christus se volmag oor hulle lewe; v11 verduidelik hoe die oorlog gewen is – deur Christus se offer van sy lewe aan die kruis, waarvan die gelowiges getuig deur hulle lewens, selfs tot die dood toe; v12 die reaksie op Christus se oorwinning en die val van die duiwel.

 

Die hemel juig dat die aanklaer die gelowiges nie meer by God kan aankla nie (soos in 1 Kon 22:19-23; 1 Kron 21:1; Job 1:6-12; 2:1-6; Sag 3:1), maar, omdat die duiwel en sy trawante nou die stryd in die hemel verloor het, is die duiwel woedend en sit sy stryd voort op die aarde en op die see (waar die twee diere van Hfs 13 vandaan kom) , en is daar ellende (die derde ‘o,wee!’). Die eerste twee ‘o,wee!’s was teen dié mense wat teen God gerebelleer het. Die derde ‘o,wee!’ raak die hele aarde, ongelowiges en gelowiges. Teenoor die ewigheid van die koninkryk van God is die duiwel se tyd van versoeking en misleiding egter kort. Dit strek slegs van Chistus se kruisdood tot die einde van die tyd van Satan se verleiding, wanneer hy en almal wat aan hom verbind is in die ewige straf beland (20:10,15).

Skrywer: Prof Francois Malan