Die Openbaring aan Johannes – Uitbreiding op die finale oordeel (15:1-16:21) – Francois Malan

15:1 Die vorige drie hoofstukke vertel van ‘n vrou beklee met die son (12:1) en ‘n bloedrooi draak wat haar vervolg tot in die woestyn (12:1-6, 13-17). Johannes sien ‘n ander teken in die hemel, groot en wonderbaarlik/verbasend. Die derde teken volg op die eerste en tweede, van die vrou (hfs 12) en die draak (hfs 13). Die plan van God word volbring met hierdie ‘sewe laaste plae.’ Soos die leër van die farao in die Rietsee verdrink het, word die leër van hierdie farao – die volgelinge van die draak en sy twee trawante –verslaan in ‘n nuwe eksodus/uittog uit die slawehuis.

Soos die tien plae in Egipte voor Israel se verlossing, begin die hoofstuk met die sewe laaste plae van God se toorn, en eindig met niemand wat in die tempel kan ingaan voordat die sewe plae ‘volbring’ is nie (vgl Jesus se laaste woord aan die kruis: ‘Dit is volbring!’ (Joh 19:30). Openb 15:1 is die opskrif vir hoofstukke 15-16, God se finale plae en God se uitvoering daarvan deur die sewe engele. Hoofstuk 15 bied die mees voltooide en sistematiese ontwikkeling van eksodus se meester-plot van ‘n vervolgde volk wat verlos word van die moderne farao wat hulle agtervolg.

 

’n Nuwe lied op die vurige see (15:2-4)

15:2 Johannes sien iets soos ‘n see van glas gemeng met vuur, waarop die oorwinnaars oor die dier staan met die siters van God as hulle begeleiding by hulle lied van Moses en van die Lam. God het die siters aan hulle gegee om Hom mee te besing. In 5:8 het elkeen van die 24 ouderlinge voor die troon ‘n lier vasgehou, en in 14:3-4 het die nuwe lied van die 144,000 wat losgekoop is geklink soos die geluid van liere wat bespeel word.

Die glansende vurige see is die hemelse analogie van die Rietsee. Dit lyk soos die see van kristal voor die troon, simbool van God se majesteit en heerlikheid (4:6). Die vuur verteenwoordig die oordeel van God. In 8:7 het die vuur van God ‘n derde van die aarde verskoei; in 8:7-8 ‘n derde van die lewende wesens in die see en van die skepe; in 9:17-18 ‘n derde van die mense; in 16:8 word die son toegelaat om die mense met vuur te verskroei. In 19:20; 20:10,14-15; 21:8 word al wat boos is in die vuurpoel gewerp.

15:3-4 Die oorwinnaars het die dier, sy naam en die getal van sy naam oorwin. Die drievoudige verwysing na die draak wys na die gelowiges se volkome oorwinning oor die duiwel se lis. As volgelinge van die Lam staan hulle op die see van glas en vuur by die Lam as teken van hulle oorwinning oor die see van chaos, en hulle verlossing uit die toorn van   God se veroordeling, soos brandhout wat uit die vuur geruk is (Amos 4:11; Sag 3:2; Jud 23) sing hulle ‘n oorwinningslied.

Die nuwe lied klink na ‘n samevatting van Moses se lied oor die Israeliete se verlossing uit die hand van die farao by die Rietsee (Eks 15:1-18). Hulle lied se eerste deel (15:3) sluit aan by Moses se lied van verlossing nadat God hulle deur die see gelei het, en by sy afskeidslied wat hy voor sy dood in opdrag van die Here vir Israel geskryf het (Deutr.32).

Die nuwe lied word ook genoem ‘die lied van die Lam,’ die sleutel tot die nuwe eksodus van God se volk, want die tweede deel (15:4) brei uit op die eerste met lof vir God se verlossing deur die Lam – die paaslam geslag vir die verlossing van die nasies. Die Here, die Almagtige God, is die Koning van die nasies – Christus moet erken word as die alleenheerser op aarde, soos in die hemel (15:3; 17:14; 19:16), en staan in kontras teenoor die dier wat God se alleenheerskappy bespotlik maak met godslasterlike woorde en name (13:1,5).

Teenoor die ongelowiges se vrae van verwondering oor die mag van die dier (13:4), sing die gelowiges in verwondering oor die almag van die Here God, soos Moses in Eks. 15 en Jeremia in Jer. 10:6-7. Daarmee word die misplaasde lojaliteit van die ongelowiges verwerp: Net God moet gedien en vereer word deur al die nasies, Hy is regverdig en betroubaar. Hy alleen is heilig – ten volle toegewy aan sy skepping en die mense. Sy regverdige dade is geopenbaar deur die Lam se liefdesoffer vir die sonde van die wêreld.

Die danklied word gesing voordat die bakke met die plae van God se toorn uitgegiet word, want God se plae is deel van sy verlossing om sy volk te bevry uit die mag van die menslike farao’s, die keisergod van Rome en die mens se selfgemaakte afgode – wat ‘n lewe vir hom/haarself insluit; ook uit die mag die geestelike farao, die duiwel en sy trawante.

Met die sondvloed in Noag se tyd en die kruisdood van sy Seun, het God met die sonde afgereken, en tog het baie mense sy aanbod van vrye vergifnis nie aanvaar nie. Maar dié mense wat glo in God se versoening deur Jesus, lewe nie meer onder die toorn van God en sonder God nie, maar is deel van die liggaam van Christus (Rom 4:21-25; 5:8-11; 12:4-5). Hy is die Seun van God en ons Here, voor wie die nasies in aanbidding sal neerval – dit is ‘n laaste oproep tot bekering voor die plae kom.

Skrywer:  Prof Francois Malan