Die Openbaring aan Johannes – Wat van die gelowiges in dié tyd (7:1-17) – Francois Malan

Na die verskrikking deur die eerste ses seëls wat die Lam oopbreek om God se toorn aan te kondig oor die sonde en die sondaars wat sy liefde versmaai, en sy oordeel oor die hele skepping as gevolg daarvan, maar voor die oopbreek van die sewende seël in hoofstuk 8, antwoord hoofstuk 7 op die vraag van 6:17. Die oopbreek van die seëls word onderbreek met wat vir die leser van uiterste belang is: die verseëling van die gelowiges. Dit oriënteer die leser vir die ‘nog nie’ van die voltrekking van die oordeel. ‘Wat gou (en tachei) moet gebeur’ (in 1:1), word terug gehou tot die einde aanbreek in 22:20: ‘Ja, Ek kom gou (tachu).’ Ons lewe in hierdie voorlaaste tyd tussen die ‘alreeds’ van Jesus se eerste koms om te verlos, en die ‘nog nie’ van sy tweede koms om te oordeel. Hoe ons vanuit sy eerste koms se verlossing lewe, bepaal ons posisie op die dag van sy tweede koms. Die gelowiges sal kan staande bly (6:17), omdat hulle gemerk is as God se kosbare eiendom, vrygekoop uit die sondeslawerny deur Christus se liefdesoffer (1 Kor 6:20). Dit is noodsaaklik dat gelowiges die perspktief van Bo af behou. Johannes teken dit met twee tonele, elkeen ingelei met ‘hierna…’: 7:1-8 die gelowiges op aarde in hulle stryd teen die bose; 7:9-17 die oorwinnende gelowiges in die hemel voor die troon van God.

 

Die verseëling van God se eiendom op aarde (7:1-8)

7:1 Vier engele wat by die vier hoeke van die aarde staan om die vier winde van die aarde in bedwang te hou, sodat hulle nog nie die aarde vernietig nie, totdat die gelowiges eers met ‘n seël gemerk is. Die ophoping van die getal vier wys dat die totale vernietiging wêreldwyd gaan wees, maar dat dit eers moet wag. God se oordeel word nog nie finaal voltrek nie. Dit word kalm op die aarde en die storms op die see bedaar, die ritsel van die blare aan die bome word stil (vgl. Dan 7:2 waar die vier winde alles onstuimig laat word; en die wind wat simbool is van God se oordeel in Hos 13:15). Die spanning van die leser, wat opgelaai het tot by die oopbreek van die sesde seël, kry ‘n blaaskans, voordat die klimaks bereik word met die oopbreek van die sewende seël. Die winde van God se oordeel moet op sy bevel eers in bedwang gehou word,

7:2-3 Die woord ‘seël’ word ses maal in 7:1-8 ingeweef om die aandag van die leser daarop te vestig. In die taal van Openbaring dra elke mens ‘n teken: óf die seël van God, óf die merk van die dier (13:16). Die merke is nie letterlike tatoëermerke nie, maar simbole wat gesien kan word in die mense se lewenswyses, hulle norms, waardes en geloof. Die merke op die voorkop wys wat in die mense se koppe aangaan (vgl. Eseg. 9:4-6). Die afdruk van ‘n seëlring in klei of was, het eienaarskap aangedui (dokumente is met die seëlring van bv. die koning gewaarmerk, vgl. 1 Kon 21:8; Ester 3:10,12; 8:8; slawe is gemerk met die merktekens van hulle eienaars). Dié mense, wat met die seël van God verseël is, word beskerm teen die vernietiging van die plae (9:4), soos die Israeliete se bloed aan die kosyne hulle teen die tiende plaag , die dood van die eersgeborenes, beskerm het (Eks 12:12-13). Die bloed van die Lam (Op 7:14) gee aan die gelowiges hulle identiteit as God se eiendom, sy slawe, en dra die merkteken dat hulle navolgers van die Lam is.

7:4-7 Vanuit die aardse perspektief hoor Johannes die getal 144,000 wat met die seël gemerk is om hulle te beskerm teen die plae op die aarde tydens die vervolging. Vanuit die hemelse perspektief sien hy ‘n ontelbare skare voor die troon en die Lam. Waarskynlik word die groep van 144,000 wat nog lewe ingesluit by die ontelbare skare van alle gelowiges, dié wat reeds dood is en dié wat nog lewe. Die ontelbare skare wat Johannes sien (7:9), verklaar die getal wat hy gehoor het (7:4-8). Die 144,000 verteenwoordig al die gelowiges, almal wat aan God behoort, van voor en Christus. Die simoliese getal 144,000 word saamgestel uit 12x12x10x10x10. Dit verteenwoordig die gelowiges uit die 12 stamme van Israel (vgl. die 12 stamname van die 12 poorte van die nuwe Jerusalem 21:12) en die kerk, verteenwoordig deur die 12 apostels van die Lam, wie se name op die fondamente van die stadsmuur staan (21:14) – stamname en apostelname saam in die nuwe Jerusalem; die getal 10 vir afgerondheid, 3 as die getal vir God – 10x10x10 = 1,000×144= 144,000 as God se volle getal volgelinge van die begin van die skepping tot by die herskepping. In 7:1-8 hoor Johannes van hulle as God se weermag op aarde wat oorwin oor die sonde, en getuies is van God se verlossing deur die Lam en van sy liefde om mense tot bekering te roep; in 7:9-17 sien Johannes dieselfde volle getal van God se oorwinnaars wat in die hemel triomfeer (vgl. Luk 15:7,10). God vrywaar nie sy eiendom teen die vervolging en geweld op aarde nie, maar rus hulle met sy Gees toe om as oorwinnaars te volhard op grond van die Lam se offer en opstanding.

7:8 Johannes hoor van ‘n sensusopname, God se ‘roll call,’ van 12,000 uit elke stam van Israel, wat ingesluit word met die woord ‘verseëldes’ aan die begin van die lys by die Judastam en aan die einde by die Benjaminstam. Die welluidende herhaling van ‘verseëldes’ beklemtoon dat niemand van God se volk makeer nie. Die twaalf name verteenwoordig God se volle getal volgelinge op aarde met die simboliese merk op hulle voorkoppe. Die nuwe Israel sluit alle gelowiges van die Ou- en Nuwe Testamentiese tyd in onder die name van die stamvaders, soos uit 7:9 gesien word.

Skrywer: Prof Francois Malan