Die oplossing vir pyn en lyding

To trust in any thing more than God, is to make it a god ~ Thomas Watson 

Die oplossing vir pyn en lyding

 As Christene siek word en swaar kry, kan hulle bid en God vra vir genesing of verlossing. God het die krag om ons lewens te verander en die swaarkry weg te neem. Maar wat doen ons as dit nie God se wil is dat ons nou genees word nie? Wanneer en hoe sal swaarkry en pyn dan ophou?

 

 In Openbaring 21:1 – 4 lees ons: Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. In hierdie gedeelte gee God aan Johannes ‘n gesig van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die wêreld soos ons dit tans ken, sal nie vir ewig bestaan nie. Hierdie is ‘n wêreld wat onder die gevolge van die sonde, soos siekte en dood, gely het. maar God se plan is duidelik: Kyk, Ek maak alles nuut.

 Nadat Johannes die nuwe hemel en nuwe aarde gesien het, sien hy Jerusalem wat uit die hemel afkom. Jerusalem is die hoofstad van God se koninkryk – die plek wat God gekies het om sy troon op aarde te vestig. Hierdie stad is pragtig –  soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Toe hoor Johannes die harde stem van God: Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

 Die koms van die nuwe Jerusalem simboliseer die koms van God om op ‘n fisiese wyse in die wêreld teenwoordig te wees. Dit gaan dus nie oor ons wat gaan om by God te wees nie, maar God wat kom om by ons te wees. Die implikasies hiervan is massief: Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Volgens God se tydtafel word volle genesing eers bewerkstellig as die nuwe Jerusalem kom.

 Dit beteken dat voor dit gebeur sal Christene ly en trane stort. In hierdie wêreld word Christene steeds siek en sterf uiteindelik. Dit is egter nie die Christen se eindbestemming nie. Eendag sal God die trane afdroog. Wat ook al ons pyn en swaarkry is, sal die terugkeer van Jesus Christus en die transformasie van die heelal die uiteindelike oplossing bring. Dan sal alles volmaak wees. Dit is gewaarborg: Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees (Openbaring 21:7).