Die ouderdom van die aarde – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Volgens die
Bybel, hoe oud is die aarde? Hoekom ek vra, is omdat die wetenskaplikes sê dat
die aarde ongeveer 4,5 miljard jaar oud is, en dat die heel eerste lewende ding
blykbaar ‘n bakterie was.

Ek wil ook
weet: Is dit moontlik dat toe God die aarde en alles daarop geskape het, een dag
dalk ‘n duisend jaar, of een miljoen jaar was (soos in die Bybel staan, 2
Petrus 3:8)? Of is dit een dag, soos in 24 uur? Met ander woorde, toe God die
aarde geskape het in ses dae, was dit ses dae van 24 uur elk?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is eintlik twee vrae opgesluit in ons
vraagsteller se vraag: 1. Hoe moet ons Bybel en wetenskap met mekaar in verband
bring, veral as die twee oënskynlik met mekaar in stryd is? 2. Hoe moet ons die
dae van die skeppingsverhaal in Genesis 1 verstaan, veral as mens die
wetenskaplike feite aanvaar dat die aarde oor ‘n baie langer tyd ontstaan het
as wat Genesis 1 sê.

Oor die eerste
vraag – die verhouding tussen Bybel en wetenskap
– wil ek soos volg
antwoord. Dit het reeds ‘n cliché geword, maar dit is nodig om dit weer en weer
te sê: Die Bybel is nie ‘n wetenskaplike handboek oor geskiedenis, medisyne, die
ouderdom van die aarde en die mens, seksualiteit, antropologie, geografie,
argeologie, opvoedkunde, sielkunde, of watter ander kennis daar ook al is nie.
Ja, die Bybel maak wel opmerkings oor die ontstaan van die aarde en die mens,
maar dit is opmerkings wat vervleg is met die stand van kennis wat mense
destyds gehad het toe die Bybel tot stand gekom het. Die Bybelskrywers was nie
superwesens wat bo hulle tyd uitgestyg het en gesagvolle uitsprake oor alles en
nog wat gemaak het nie. Daarom, net omdat iets in die Bybel staan, beteken nie
dat so ‘n uitspraak met Goddelike gesag beklee is nie. Die Bybel het eerder op
‘n organiese manier tot stand gekom, dit wil sê, God het die mens in sy volle
menswees en met al sy beperkinge in diens geneem by die wording van daardie
boeke wat ons die Bybel noem. En tog bely ons dat die Bybel God se Woord is, en
daarom gesagvol is. Maar wat beteken dit presies? Waarin lê die gesag van die
Bybel, waaroor wíl dit gesagvol spreek?

Die gesag van die Bybel lê primêr in die perspektief wat dit oor God se
betrokkenheid by gebeure open,
en nie in die spesifieke historiese
inkleding daarvan nie. Laasgenoemde is verweef met die wêreldbeeld van die
antieke mens. Natuurlik is die historiese gegewens nie onbelangrik nie, want dit
gaan juis oor God se dade in die geskiedenis. Maar die Bybel bied nie die
historiese gebeure aan as objektiewe geskiedskrywing nie. Sy oogmerk lê elders.
Die Bybel is nie geïnteresseerd in die historiese gebeure as sodanig nie, maar
gebruik eerder daardie gebeure om God se hart en wil bloot te lê. Die Bybel wil
vertel van God se onpeilbare grootheid, genade, liefde, barmhartigheid en trou;
dat Hy sy skepping – ook die mens – nie oorgee aan vernietiging en verderf nie,
maar dat Hy vanuit sy ewige liefdestrou handel waarvolgens Hy sy ganse skepping
na voltooiing en heerlikheid lei. En by hierdie reis van God met sy skepping betrek
Hy die mense in dié se geloof, gehoorsaamheid en volharding. Vanuit hierdie
siening kan ons sê die Bybel handel oor verhoudings – die verhouding van God met
ons, ons met Hom, en ons as mense met mekaar. In dié sake wil die Bybel
gesagvol wees. Byvoorbeeld, die Bybel praat met gesag wanneer dit sê dat God
ons liefhet, so lief dat Hy sy Seun vir ons sonde laat sterf het. Of dat ek God
bo alles moet liefhê en my naaste soos myself. Maar ons hoef nie die Bybel se
voorstelling van ‘n plat aarde wat stewig op sy fondasies rus, as gesagvol te
aanvaar nie. Laasgenoemde het te make met die spesifieke wêreldbeeld van die
antieke mens wat ons nie meer deel nie. Die bedoeling van hierdie uitspraak
moet ons egter wel raaksien, naamlik dat die aarde nie toevallig ontstaan het
nie, maar voortspruit uit God se skeppingsmag en daarom rus in die
onveranderlike trou van God. God bly getrou aan sy skepping; Hy laat vaar nie
die werke van sy hande nie.

As ons hierdie verhouding tussen Bybel en
wetenskap goed raaksien, raak ons nie meer ontsteld wanneer ons teenstrydighede
raaksien tussen ons kennis vandag en wat ons in die Bybel raakloop nie. Ons
besef dan dat ons telkens dit waaroor die Bybel gesagvol wíl wees – soos hierbo
verduidelik – moet ontdek in die bladsye van die Bybel, en die res rustig
oorlaat aan wat die wetenskap vir ons ontdek oor die mens en die kosmos, onder
andere iets soos die ouderdom van die aarde.

Oor die gesag van eietydse wetenskaplike kennis
moet ons ook iets sê. Ons hoef nie van huis uit wantrouig te staan teenoor wetenskaplike
kennis nie. As ons die wetenskaplikes oor die ouderdom van die aarde wantrou,
dan moet ons hulle ook wantrou wanneer ons ‘n elektriese lig aansit, die motor
aanskakel, die dokter gaan spreek, ensovoorts. Natuurlik, wetenskaplikes is ook
mense en maak foute in hulle kennisversameling en interpretasie van gegewens.
Hulle teorieë is nie altyd reg nie. Maar ons moenie dink wetenskaplikes is met
‘n groot komplot teen die mensdom besig as hulle ons probeer wysmaak dat die
kosmos ongeveer 14 miljard jaar oud is, die aarde 4,5 miljard jaar, en homo sapiens ongeveer 200 000 jaar
(en nie 6 000 jaar nie – wat die mens betref – as
ons die getalle van Genesis volgens ‘n bepaalde berekeningsmetode bymekaar tel
en met die res van die Bybelgeskiedenis in verband bring).
Ons moet eerder die mate van konsensus wat daar onder wetenskaplikes hieroor
bestaan, aanvaar en Bybelse geskiedskrywing in die lig hiervan probeer nuut
verstaan. Anders trap ons in dieselfde strik as die kerk van die Middeleeue wat
uiteindelik sy ketterjagtery op wetenskaplikes wat gesê het dat die aarde rond
is en om die son draai, moes laat vaar en met rooi gesigte moes toegee dat die
wetenskaplikes toe al die tyd reg was. Hiermee wil ek nie beweer dat ‘n mens
alles wat wetenskaplikes aanbied voor die voet moet glo nie. Natuurlik is daar
nog oor baie dinge onsekerheid en ‘n gistingsproses aan die gang, maar oor baie
sake het daar tog al konsensus ingetree. Na alles is daar ook so-iets soos ‘n
gestadige vooruitgang in die wetenskap wat onder die seënende hand van die Here
plaasvind. En wanneer swaar verworwe kennis oor ‘n lang tyd kruiskontroles
ondergaan en die toets deurstaan het, kan ons dit aanvaar. ‘n Mens kan immers
nie die horlosie terugdraai en maak asof hierdie kennis nie bestaan en nie deel
van Bybelgelowiges se verwysingsraamwerk vorm nie. Hoe meer ons van die kosmos
(én die Bybel!) leer, hoe meer besef ons dat die Bybel nie as ‘n onfeilbare
bron van kennis oor gedetailleerde inligting rakende die ontstaan van die
skepping – die mens ingesluit – ingespan kan word nie. Soos reeds gesê, die
Bybel handel primêr oor verhoudings:
tussen God en skepping, tussen God en mens, en tussen mens en mens. Die Bybel
verskaf nie primêr wetenskaplike inligting nie.

Met bogenoemde uiteensetting as agtergrond, kan
ons nou na die tweede vraag van ons
vraagsteller beweeg: Hoe moet ons die dae
van Genesis 1 verstaan?

Soos wat nuwe inligting oor die ouderdom van
die aarde algaande die kerk se ore bereik het, was daar in die verlede allerlei
pogings om die Bybel (spesifiek Genesis 1) en die wetenskap met mekaar te
“versoen”. Een van die pogings was inderdaad wat ons vraagsteller
noem, naamlik dat ons die dae van Genesis 1 nie letterlik moet neem nie, maar
moet verstaan as langer tydperke, op voetspoor van bv 2 Petrus 3:8 waar staan
dat duisend jaar in die oë van die Here soos een dag, en een dag soos duisend
jaar is. Op dié manier kan mens dan die lang wordingsgeskiedenis van die aarde
(4,5 miljard jaar) beter inpas by wat in Genesis 1 staan en so die gesag van
die Bybel probeer “red”. Maar dan sit mens weer met die probleem dat
jy die spesifieke volgorde van die skeppingsgebeure soos in Genesis 1 beskryf
ook moet maak klop met wat die wetenskap aan ons voorhou oor hoe die aarde
ontstaan het. En dit klop nie altyd nie. Want hoe moet ons die lig wat op die
eerste dag geskape is onderskei van die “ligte” (son, maan en sterre)
wat eers op die vierde dag geskape is? Verder, hoe het die plante geleef wat
reeds op die derde dag geskape is as die son, wat ons weet nodig is vir plante
om te groei, eers op die vierde dag geskape is? En so vermenigvuldig die probleme
as ons probeer om Genesis 1 met wetenskaplike feite te versoen. Dit wil net nie
lekker werk nie.

Gaandeweg het daar by Bybelwetenskaplikes egter
die besef gegroei dat ons glad nie hierdie weg van “versoening” moet
opgaan nie, maar eerder, enersyds, die wetenskaplike feite moet aanvaar vir wat
dit is, en, andersyds, Genesis 1 in terme van sy eie bedoeling moet verstaan. Algaande
is besef dat Genesis 1 nie probeer sê hoe
God geskep het nie, maar primêr wil sê dat
die God van die verbond – die God van Abraham, Isak en Jakob – die Skepper is
van alles wat is en bestaan. Verder, vóór Hy geskep het, was daar niks. Hy het dus
uit níks, iéts daargestel – die kosmos. Dit onderstreep sy skeppingsmag. Maar
die skrywer wou nog meer sê: Teenoor die omringende godsdienste van daardie tyd
wat van die son, maan en sterre gode gemaak het, word in Genesis 1 onomwonde
gesê dat hierdie sogenaamde gode eintlik maar net “ligte” aan die
hemeltrans is; hulle is blote skeppings van die almagtige God, daar is niks
goddeliks omtrent hulle nie. Net één is God, en dit is die God van Israel. So
gesien is die skeppingsverhaal ook polemies ingestel; dit wil “oorlog
verklaar” teen wanopvattings van ander godsdienste wat die skepping wil
ver-Goddelik ten koste van die enigste ware God.

Die belangrike afleiding uit bogenoemde is dat
ons nie uit Genesis ‘n bepaalde chronologiese volgorde moet probeer aflei oor
hoe die kosmos tot stand gekom het en dit dan as die gesagvolle weergawe opstel
téénoor eietydse wetenskaplike kennis nie. Ons moet eerder oog kry vir wat die
skrywer van Genesis 1 probeer doen het. Hy het eintlik ‘n gedig geskryf oor die
grootheid van God, nie ‘n betroubare handboek probeer saamstel oor hoe die heelal
presies ontstaan het nie. Verder, as kind van sy tyd en as gelowige Israeliet
het die skrywer die ritme waaraan hulle as God se volk gewoond was, naamlik ses
dae werk en die sewende dag rus, as vertrekpunt geneem vir die inkleding van
die skeppingsgebeure. So wou hy eintlik ook ‘n soort begronding bied vir hulle
godsdiens en leefwyse, naamlik: As God Self ses dae geneem het om sy werk te
voltooi, en die sewende dag gerus het, dan is dít die rede waarom Israel ook
dieselfde lewensritme moet hê.

En dit bring ons by die lengte van die dae in
die skeppingsverhaal. Daar is geen rede om te aanvaar dat die skrywer enigiets
anders in gedagte gehad het as gewone dae van 24 uur elk nie. Dit is slegs ons
as moderne mense met ander gegewens tot ons beskikking wat daarmee probleme
het. Die antieke skrywer het nie ons kennis van die ontstaan van die kosmos
gehad nie. Vir hom sou dit die natuurlikste ding in die wêreld gewees het om
gewoon te skryf dat God ‘n woord gespreek het en dan het dit onmiddellik gebeur,
binne 24 uur. Die skepping word daarom veral as voortspruitende uit die woord
van God verstaan. By elkeen van die skeppingsdae staan daarom dat God
“gesê” het, en dan gebeur dit. God se woord is kragtig; Hy spreek, en
dit gebeur (Psalm 33:9). Hy bring dinge wat nie bestaan nie, tot stand deur sy
woord (Romeine 4:17; 2 Petrus 3:5). Daar is dus geen twyfel by die skrywer oor
die krag van God se spreke nie. Enige poging van ons kant om hieraan tekort te
doen, of die dae anders te probeer verstaan net om by ons verstaan van dinge
aan te pas, misken die bedoeling van die skeppingsverhaal wat alle klem laat
val op die mag en krag van God wat dinge tot stand laat kom bloot deur te
spreek. Die punt is: daar is geen teenstrydigheid tussen die Bybelse
skeppingsverhaal en ons kennis vandag nie. Elkeen het sy eie ontstaan en oogmerk:
Die Bybel wil die klem laat val op die skeppingsvermoë van God; die wetenskap
wil presies weet hoe dinge chronologies verloop het en hoe lank dit gevat het.

Ons moet verder ook oog kry vir die kunstige
opbou van die skeppingsverhaal. Dit versterk die gedagte dat die skrywer nie
lukraak met sy gegewens omgegaan het nie, maar dit in ‘n fyn uitgewerkte skema
aangebied het. Ek wys net op een aspek: Daar is ‘n korrelasie tussen die
gebeure van die eerste drie dae en die laaste drie dae. So word lig op die
eerste dag geskep, en op die vierde dag die ligte van die hemel. Op die tweede
dag word die hemelgewelf gemaak om skeiding tussen die waters in die lug (reën)
en dié op die aarde te maak; op die vyfde dag word gesê hoe God hierdie hemelgewelf
met voëls en die waters op die aarde met visse gevul het. Op die derde dag skep
God die see en die droë grond, saam met die plante wat uit die aarde opkom, om
die aarde leefbaar te maak; op die sesde dag skep God die diere en die mens om op
die aarde te leef en dit te vul.

Die skeppingsverhaal is dus nie daarop uit om
ons kennis van die ontstaan van die kosmos te bevredig nie, maar laat alle klem
val op die krag van God wat alles uit niks gemaak het. En verder dra die
kunstige opbou van die skeppingsverhaal die gedagte dat God planmatig geskep
het; alles pas by mekaar en in mekaar; elke ding is op sy plek, presies soos
God dit beplan het.

Bewapen met hierdie geopenbaarde kennis uit die Bybel kan ons nou die wetenskap na hartelus beoefen. Ons hoef nie alles met Genesis 1 te laat “klop” nie; ons kan gewoon uitgaan van die veronderstelling dat God se skepping ons uitnooi om alles noukeurig te ondersoek en dan telkens verstom te staan oor die wonder daarvan, en God daarvoor te prys. Dít is waartoe die skeppingsverhaal ons oproep, nie om kwelvrae te hê oor Bybelkennis en wetenskaplike kennis wat nie wil klop nie. Daar is baie natuurwetenskaplikes wat ook kinderlike gelowiges is, mense wat hulle kennis oor die ontstaan en voortbestaan van die kosmos juis gebruik om God, die Skepper van hemel en aarde, te dien en te prys.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl