Die oue weerklink in die nuwe. Die eggo’s van die Ou Testament in die Nuwe Testament – Jan van der Watt

Die boodskap van die Nuwe Testament het nie sommer uit die lug geval nie. Jesus het nie sommer een dag opgedaag en niemand het geweet waarom nie. Nee, die Nuwe Testament is die tweede episode van God se verhaal met sy mense op aarde. Die Nuwe Testament begin nie nuut nie, maar is gewortel in die Ou Testament. Hoewel die verhaal van Jesus vars en nuut is, is dit ook die ou-ou tyding van die Skeppergod wat ’n pad met sy mense deur die wêreld stap. Om dus te verstaan waarom daar sekere dinge in die Nuwe Testament gebeur en waarom dit juis op die manier moes gebeur, is dit dus belangrik dat mens die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament goed verstaan. Die nuwe groei immers uit die oue.

’n Basiese veronderstelling is natuurlik dat die God waarom dit gaan, gister, vandag en môre dieselfde is. Dit is sy verhaal, beide in die Ou en in die Nuwe Testament. Daarom kan mens verwag dat dit nie twee afsondelike verhale is nie, maar een verhaal waarin die verskillende temas en drade nou met mekaar vervleg is. Die verhaal van die Ou Testament word dus in Nuwe Testament voortgesit. Verwagtings uit die Ou Testament, profesieë, voorbeelde van hoe God is en optree, dit alles vloei deur na die Nuwe Testament.

Daar is natuurlik een verskil – in die verhaal van God in die wêreld het daar in die Nuwe Testament een ‘karakter’ bygekom, naamlik Jesus Christus, die Seun van God. In en deur Hom het die ou verhaal van God met die wêreld nuut geword. Hy is nie verniet Immanuel genoem nie, want Hy het God naby sy mense gebring. Die ware lig sou nou oor die wêreld skyn (Joh 8:12) sodat mens in díe lig God se teenwoordigheid by sy mense beter sou kon sien. Daarom word die Nuwe Testament ook NUWE Testament genoem; dit gaan oor God se nuwe plan en ooreenkoms deur Christus met sy mense in die wêreld.

Die spore van die Ou Testament lê diep in die Nuwe Testament. Hier volg voorbeelde van die belangrikste voetpaadjies wat uiteindelik op die Nuwe Testament uitgeloop het. Sekere sentrale gebeure in die Ou Testament was vir die Christene veral belangrik. Gebeure soos die skepping, die uittog (eksodus) uit Egipte, die ballingskap in Babilonië was baie belangrik, omdat dit draaipunte in die geskiedenis van Israel was waarin hulle God baie nodig gehad het. Dan het die vroeë Christene ook baie geleer uit die voorbeelde wat ‘godsmanne’ soos Abraham, Moses of koning Dawid gestel het. Daarom duik die figure gedurig in die Nuwe Testament op as voorbeelde. Natuurlik is daar ook die profete soos Jesaja of Esegiël; die gelowiges word gedurig herinner aan hulle woorde en hoe dit betekenis het vir die Christene. Dit help hulle om die betekenis en boodskap van Jesus soveel beter te verstaan.

In die volgende artikel gaan ons kyk na spore van die Ou Testament wat diep in die Nuwe Testament lê. Ons gaan by die skepping begin.