Die oue weerklink in die nuwe: Die nuwe wet – Jan van der Watt

  1. ii) Die Nuwe wet word van die Berg af aangekondig.

Die Evangelie van Matteus is vir mense met ‘n Joodse agtergrond geskryf. Hulle het die Ou Testament geken. Daarom gebruik Matteus graag motiewe uit die Ou Testament wat die lesers dadelik sou herken as verwysings na die eksodusgeskiedenis. Ons het hierbo gelees dat Moses die wet gegee het, natuurlik van die Berg Sinaï af (Eks 19-20:21)… Soos Moses bring Jesus ook die ‘nuwe wet’ van die ‘berg’ af (Mat 5-7, die ‘Bergpredikasie’): Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:… 17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry… 21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie…’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank… 27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg…

Hier kan ‘n mens duidelik sien hoe Jesus ‘van die Berg af’ soos ‘n tweede Moses die ‘nuwe wet’ van die Koninkryk aan God se nuwe volk aankondig. Hy verander nie die ou wet nie, maar verduidelik die ‘volle betekenis’ van die wet, met ander woorde, hoe dit regtig verstaan moet word. So kon die Christene hulleself voorstel dat hulle soos die volk van ouds by die Berg staan en die verbondswet hoor. Dit is hulle God en hulle is sy volk. Hulle storie en die storie van die ou volk van God val saam, omdat hulle God die Verbondsgod van Sinaï is.

Volgende keer kyk ons na die tog deur die woestyn.