Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (2) – Jan van der Watt

In die vorige artikel het ons gekyk na God wat skep. Hy staan bo die skepping uit en moet daarvan onderskei word.

 

Vir die Nuwe Testament is baie belangrik dat die God wat geskep het, dieselfde God is wat mense deur Jesus leer ken. Omdat Jesus die sentrale figuur in die Nuwe Testament is, is dit baie belangrik om die kontinuïteit tussen die God van die Ou Testament en Jesus van die Nuwe Testament te beklemtoon. Luister hoe vertel Paulus aan al die slim en geleerde mense in Atene wie die ware God is: 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (Hand 17:24-27). Die ware God is die Skeppergod wat van niemand iets nodig het nie, maar van wie almal afkanklik is. Hy is die een wat bepaal wat met nasies gebeur en na wie nasies moet soek. Dit is díe einste God wat ons in Jesus ontmoet; dit is Hy wat Jesus lewe gegee het, omdat Hy die God van lewe is: As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom (Jesus) uit die dood laat opstaan (Hand 17:31).

 

In die Nuwe Testament kom daar ’n belangrike element by. God skep nie alleen nie, maar Hy skep deur Jesus. Dit beteken dat Jesus dieselfde kwaliteite as God vertoon. Hy is ook verhewe bo die skepping (pre-eksistent) en Hy verteenwoordig ook al die ware egte kwaliteite van liefde, waarheid, omdat Hy alles gemaak het. Hy hou ook alles in stand. Kyk hoe stel Paulus dit: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand (Kol 1:15-17). Daarmee bedoel Paulus nie dat God nie meer by die skepping betrokke is nie, maar Jesus as sy Seun deel word van die proses. Dit beklemtoon Paulus in 1 Kor 8:6: Daar is nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dit herinner ons nogal aan Spreuke 8:22-31 waar die Wysheid vertel hoe sy teenwoordig was toe God alles gemaak het. God en Jesus het inderdaad ‘saam’ gewerk aan die totstandkoming van die Skepping.

 

Johannes sluit hierby aan: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Joh 1:1-3). Op die manier word die band tussen God en Jesus onlosmaaklik bevestig. God en Jesus kan nie geskei word nie. Wat dus in die Nuwe Testament gelees word, word op die intieme verhouding tussen Jesus en God gebou. Wat Jesus dus doen en sê kom regtig van God af.

 

In die volgende artikel gaan ons die artikels oor die skepping afsluit.