Die pad na geloof

 

“We must not be wise and prudent according to the flesh, but, instead, we must be simple, humble and pure.” – Franciskus van Assisi

 

Die pad na geloof

Die Nuwe Testament vertel die verhaal van Jesus. Die evangelies vertel ons van sy tyd op aarde. Handelinge vertel ons van die gevolge van Jesus se aardse bediening – meer en meer mense glo in Jesus as die Messias. Ons kry voorbeelde van hoe mense volgelinge van Jesus Christus word.

 

In Handelinge 8 lees ons van een mens se reis – ‘n Etiopiër. Hy was ‘n soeker. Hy reis al die pad van Etiopië na Jerusalem om te kom aanbid. Hy het ‘n hoë pos beklee in die hof van die koningin van Etiopië. Terwyl hy reis lees hy uit die profeet Jesaja, maar verstaan nie mooi wat hy lees nie. Toe kom Filippus daar aangehardloop. Toevallig? Nee, hy het ‘n opdrag van die Gees gekry om saam met die wa te loop. God se Gees bring Filippus en die Etiopiër bymekaar uit, want God gee om. Hy weet wat die mens se diepste behoeftes is en Hy wil dit hanteer. Hy wil hê dat mense wat Hom soek Hom moet kry. Soek jy? Weet jy dat God aan die werk is om jou behoeftes te hanteer? Is jou hart oop vir die ontdekking van sy woord.

 

Toe kom Filippus daar aan. Hy hoor dat die Etiopiër uit Jesaja lees. Hy vra: Verstaan u wat u lees? Die Etiopiër antwoord: Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie? Ook ons het soms hulp nodig. ‘n Gids is van groot waarde om jou pad deur die Bybel te kry.

 

Die Etiopiër lees Jesaja 53 – ‘n gedeelte wat ongeveer 700 jaar vantevore geskryf is. In Jesaja 52 lees ons van God se dienaar en in Jesaja 53 word die aaklige dood van die dienaar beskrywe. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom … Na sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra (Jesaja 53:6, 11).

 

Hierdie dienaar is tevrede, want hy sal baie mense regverdig maak, en hulle sonde wegneem en op hom plaas. Tog is hierdie dienaar onskuldig: Hy het ‘n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie (Jesaja 53:9). Maar hoekom sou hy dit doen? As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik (Jesaja 53:10).

 

Volgende keer kyk ons verder na die Etiopiërs se reis.