Die paradoks van die evangelie

The greatest missionary is the Bible in the mother tongue. It needs no furlough and is never considered a foreigner. —William Cameron Townsend

 

Die paradoks van die evangelie

Daar is ‘n oneindige afstand tussen die Skeppergod en sy skepsels. Die skeiding is die gevolg van ongehoorsaamheid en opstand teen daardie Skepper. Die Bybel sê vir ons hierdie afstand tussen Skepper en skepsel deur Jesus Christus onderhandel is – die deur is weer oop vir die oorspronklike verhouding tussen God en mens.

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Romeine 3:23 – 24). Volgens Martin Luther is hierdie verse die kern van die brief.

Vers 21 begin met maar nou.  Dit is die bemoedigende nuus dat in Christus, en nie deur wetsonderhouding nie, het God voorsiening gemaak vir ons verlossing. Dit is bemoedigend, want hierdie verlossing hang nie van ons pogings af nie. Dit hang net van God en sy genade af.

Hierdie goeie nuus geld vir almal, sonder onderskeid, wat in Jesus Christus glo. Hierdie verlossingsplan is deur God self geïnisieer en dit hanteer die ingewikkeldste probleem in die geskiedenis van die mens: hoe kan ‘n sondige mens deur ‘n heilige en regverdige God vrygespreek word? Hierdie gedeelte beskryf wat God in Christus gedoen het om hierdie hindernis van sonde en die mens se gesindheid om op homself te vertrou, te oorkom.

In vers 21 – 26 gebruik Paulus die woord vryspraak nie minder as ses keer nie. Die woord glo word vier maal gebruik – dit is die manier waarop God se vryspraak beskikbaar gestel word. God gee dit (vryspraak) sonder onderskeid aan almal wat glo. Vryspraak is egter buite die bereik van alle menslike pogings. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil (Hebreërs11:6); En enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde (Romeine 14:23).

Die paradoks van die evangelie: die nietige skepsel word deur Jesus Christus met die magtige Skeppergod versoen.