Die plaaslike gemeente en dissipelskap

 

When institutions fail to distinguish between current practices and the enduring principles of their success and mistakenly fossilize around their practices, they set themselves up for decline – Jim Collins.

Die plaaslike gemeente en dissipelskap

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

God se opdrag is dat ons dissipels van al die nasies moet maak. Dit kan ons nie op ons eie doen nie – ons word ook nie verwag om dit op ons eie te doen nie. Ons is deel van die geloofsgemeenskap. Die kerk moet nie net na binne fokus nie. Ons woon in ‘n omgewing wat ons bedreig, maar die kerk is ‘n vuurtoring en nie ‘n bomskuiling nie. Ons kruip nie weg vir probleme nie – ons lei ander daardeur.

Liefde is egter die basis van wat dit beteken om Jesus Christus te volg. En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5). Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Interaksie tussen gelowiges behoort deur liefde gekenmerk te word. Dit is hoe die wêreld ons sal herken: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes14:34 – 35).

Die laaste aand voor sy kruisiging bid Jesus vir sy dissipels. Let net op hoeveel klem Hy op eenheid plaas (Johannes 17:20 – 23). Die eenheid van die kerk sal die wêreld oortuig dat ons waarlik volgelinge van Jesus Christus is.