Die Psalms: Inleiding (2)

 

What does love look like? It has hands to help others. It has the feet to hasten to the poor and needy. It has eyes to see misery and want. It has the ears to hear the sighs and sorrows of men. That is what love looks like – Augustinus

 

Die Psalms: Inleiding (2)

In die oorspronklike Hebreeus beteken psalm ‘n lied. Om te sing is eie aan die mens. En tog: die lied van Israel is anders as dié van byvoorbeeld sy buurlande. Dit het nie oorspronklik ‘n besondere godsdienstige betekenis gehad nie, want vir die Jode het die hele lewe aan God behoort. Hy het immers die lewe aan almal gegee. Tog is al die psalms of aan God gerig of  praat van die liefdevolle wil en doel van God. Party is klagtes uit die hart gerig aan God. Ander is baie persoonlike sondebelydenisse waar die skrywer duidelik aantoon hoe die sonde hom van God vervreem het. Ander is lofprysings waar die digter hom verwonder aan die genade van God. Sommige is klaarblyklik op ‘n siekbed geskryf. Ander is geskryf in die skadu van die dood. Sommige is liedere vergelykbaar met ons moderne vorm van liedskrywing. Sommige kyk terug na die geskiedenis van Israel en God se liefdevolle hantering van sy volk oor baie eeue heen. Dit lei dikwels tot ‘n verklaring van geloof in die toekoms. Ander het te doen met die koning, wat ‘n baie spesiale plek in die geskiedenis van Israel beklee het. Ander beskryf die prag en betekenis van Jerusalem – die heilige stad. Dit is daar waar die koning regeer en dit is vandaar waar, eendag in die toekoms, die Koning sal kom wat oor die hele wêreld sal regeer. Ander verbly hul in die Wet as God se geskenk aan die wêreld – die lig op die pad van die gelowige. Ander staan in eerbied voor die wonder van die natuur, die donderstorm, die aardbewing, die migrasie van die voëls, die indrukwekkende seders van Libanon.

 

Die hele spektrum van die mens se ervaringsveld kom in die Psalms tot uiting. Die skrywers stort hul ware gevoelens uit en skets vir ons die dinamiese, kragtige en lewensveranderlike verhouding wat hul met God het. Hul bely hul sondes, hul gee uiting aan hul twyfel en vrees, hul vra God se hulp in tye van nood en hul prys en loof Hom. Alle psalms erken alles is en bly in die hand van God. Omdat dit so ‘n eerlike boek is, kom mense deur die eeue steeds daarheen terug vir troos in tye van nood en beproewing. Saam met die psalmdigters word hul uit wanhoop tot blydskap opgehef as hul die krag van God se ewige liefde en vergifnis ontdek.