Die Psalms: Inleiding (5)

 

Let my heart be broken by the things that break the heart of God – Bob Pierce, stigter van World Vision

Die Psalms: Inleiding (5)

Daar is groot verskille in die denkwyses van die psalmdigters en die mens van vandag. Die Psalms is tot 3 000 jaar oud. Hul is dikwels moeilik om te vertaal. Selfs alledaagse woorde soos koning, priester, huis, liefde, ens. het dikwels in Hebreeus ‘n ander betekenis as wat ons noodwendig daaraan heg. Die meeste psalms is nie historiese beskrywings nie. Daar is egter heelwat parallelle tussen die psalms en historiese gebeure en periodes.

 

Die psalms het oor ‘n lang tydperk beginnende by Dawid ontwikkel. Die tradisionele kern het ander gedigte uit verskillende bronne om hom saamgetrek. Dit het dan versamelings gevorm wat die name van koormeesters, leermeesters, stigters van die musiekgilde en ander bevat het.

 

Hierdie opskrifte (byvoorbeeld Asaf) kan beteken dat die opskrif verwys na ‘n versameling van gewyde liedere wat hierdie “musiekdirekteure” of “musiekgildes” gebruik het.

 

Al die psalms is voor Christus. Met verloop van eeue en in die lig van latere gebeure het van die psalms se betekenis verander. Sinne is nie net in hulle onmiddellike historiese konteks gelees nie, maar teen die agtergrond van die Bybel in sy geheel.

 

Meeste van die eerste Christene was Jode. Vir hulle was die psalms ‘n noodsaaklike deel van aanbidding. Geen wonder die psalms het ook hulle plek ingeneem by Christene se lofprysing nie. Teen die tweede eeu het die Christene die Joodse psalms gesing; teen die vierde eeu is elke deel van Christelike aanbidding en toewyding verryk deur die psalms. Die aanvaarding van die psalms deur Christene het uiteraard hulle interpretasie beïnvloed.

 

Dit is onmoontlik om die datum waarop die psalms geskryf is, vas te stel. Die 150 psalms het oor ‘n lang tyd en onder verskillende omstandighede tot stand gekom. Al het elke psalm sy eie aard, is daar baie psalms wat gemeenskaplike kenmerke vertoon, en dus saam gegroepeer kan word. Of daar reeds gepoog is om die psalms met eenderse kenmerke bymekaar te sit toe die psalms saamgevoeg is, is onduidelik. Geen vaste patroon kan vasgestel word nie.

 

Die boek in sy huidige vorm het relatief laat eers beslag gekry. Sommige psalms het tydens die ballingskap in Babilonië ontstaan (586 – 539 vC). So vra Psalm 137:4: Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land? Psalm 119 het moontlik ontstaan kort nadat die tempel herbou is. Esra 3:5 – 6 beskryf hoe die aanbidding van God herstel is deur die terugkerende gemeenskap. Die psalms is dus eers later bymekaar gebring.