Die Rol van die Vader, die Seun en die Heilige Gees in my lewe

image_pdfimage_print

Die Rol van die Vader, die Seun en die Heilige Gees in my lewe – Fanie Rudolph

Wat is die rol wat God die Seun, God die Vader en God die Heilige Gees in die gelowige se lewe speel.

Antwoord:

Dr Fanie Rudolph antwoord:

1. Inleiding:

Miskien moet ons begin deur te sê dat die rol van God as Vader, Seun en Heilige Gees nie losgemaak moet word van die belangrike feit dat ons een God aanbid nie.  Wie van hierdie drie Persone ons ook mee te doen kry, ons kry te doen met God.  Die oomblik as ons hulle heeltemal probeer skei, loop ons die gevaar om drie gode te aanbid, en nie meer een Lewende God nie!  Hou dit in gedagte by ons bespreking hiernaas.

 

2. God as Vader:

Die Bybel stel God Vader voor as Versorger en Beskermer.  In die Ou Testament sien ons dat God alles gemaak het, dit is, Hy is die Voorsiener (Gen. 1-2).  Hy is ook die Koning wat oor sy skepping regeer.  Ons sien God wat mense kies om ‘n nuwe begin mee te maak.  Hy verbind hulle aan Hom met ‘n verbond (Gen. 6-8 en 12).  Die hele Ou Testament vertel eintlik vir ons die verhaal van God wat Vaderlik omgee vir die mense wat Hy gekies en geroep het.  Hy doen dit deur mense die regte pad te wys, hulle te wys op hulle foute, hulle te vergewe, en vir hulle nuwe hoop te gee.  Dit doen God oor en oor.  Soms word God se versorging met moederlike beelde aangedui (Jes. 49:15; 66:13).  In die Nuwe Testament lees ons dat God as Vader die Inisieerder van ons verlossing is.  Hy maak ons nuut deur sy Seun mens te laat word en vir ons te laat sterf (Joh. 3:14-18).  In die Ons Vader-gebed leer Jesus ons van die Vader as ons groot Versorger en Beskermer (Matt. 6:9-13).  Hy is God wat bo ons is en namens ons en ter wille van ons (tot ons voordeel en sy eer) soos ‘n GOEIE Vader optree.

 

3. God as Seun:

God as Seun is ons Verlosser.  Hy verlos uit genade (2 Kor. 5:20-21).  Hy bring ‘n nuwe bedeling waarin alles nuut geld, ook die wet (Matt. 5-7).  Hy bring die verlossing wat die Vader uitgewerk het, tot uitvoering.  Hy sterf in ons plek.  So maak Hy ons kinders van God (Joh. 3:16).  Deur sy opstanding gee Hy vir ons nuwe lewe (1 Kor. 15).  Hy is die enigste Weg om by die Vader uit te kom (Joh. 14:6; vgl. 14:13; 14:2-3).  Dit is interessant dat Jesus nie hierdie gedeelte, wat ons so graag in ons gebede insluit, noem in sy modelgebed nie.  Wie hierdie Weg volg, kry deel aan die nuwe lewe (Joh. 6:47).  Die verlossing van die Seun is universeel (i.e. beskikbaar vir alle mense).  In die hemel vervaag die onderskeid tussen Vader en Seun.  Wanneer Johannes die troon van God en die Lam (een troon) in die hemel sien, sien hy dat die dienaars van God Hom dien (een God – Openb. 22:3).  Die Seun is self God.  Wie Hom sien, sien die Vader (Joh. 14:9; 10:30).  As God was Hy by die skepping betrokke saam met die Vader (Kol. 1:1-20).  In Openbaring word Hy ook Regter by die oordeel, as God (Openb. 14, 19, 20).  Hy is God wat mens geword het om ons na God toe te trek.

 

4. God as Heilige Gees:

Die Heilige Gees is van die Skepping af betrokke by God se werk (Gen. 1:1-2).  Die Gees het profete geïnspireer.  In die Nuwe Testament lees ons veral van die Gees as getuie oor God en die Godheid van die Seun (Matt. 3:17).  Die Heilige Gees lei ons om by die Seun uit te kom, sodat ons die weg na die Vader kan vind.  Die Heilige Gees maak dit vir ons moontlik om te glo (1 Kor. 12:3).  Die Gees is God-met-ons, nadat die Seun opgevaar het na die hemel toe (Joh. 14:16-17).  Hy is God wat in ons getuig oor God en die Seun, en ons laat getuig tot eer van God (Hand 1:8).  Hy is ons Voorspraak (i.e. Hy tree vir ons in by God, en Hy tree vir God in by ons – Joh. 16:26).  Hy bid selfs vir ons tot die Vader as ons woorde opraak (Rom. 8:26-27)!  Hy weet immers presies hoe ons voel.  Hy is voorwaar ‘n Trooster en Voorspraak waarop ons kan reken.  Verder sal die Gees die sonde van die wêreld uitwys, en ons lei om die Waarheid (i.e. die Seun) te volg, en nie die wêreld nie (Joh. 16:8).  Ons sien in Paulus se briewe dat die Gees die Gewer van geestelike gawes is (1 Kor. 12-14).  Hy maak dit vir ons moontlik om tot eer van God te werk.  Die Gees bevry ons van die verlede en stel ons in staat om meer en meer soos Jesus te word (2 Kor. 3:18).  Wie die Gees hoor en aanneem, word bewus van sy / haar kindwees van God (Rom. 8:14).  Wie die Gees van God het, kan nie anders nie as om iets van Christus in hulle lewe te wys nie (Gal. 5:22-26), want jy word oorspoel met die genade van Christus wat jou lewe vul.

 

Samevatting:

Dit is seker ‘n mondvol.  Ons sou eintlik ‘n hele boek daaroor kon skryf.  Miskien vat 2 Korintiërs 13:13 dit die beste saam: Die Vader wil ons in liefde vashou en beskerm en versorg, die Seun kom red ons met sy genade, ‘n genade waaraan ons kan en moet vashou, en die Heilige Gees wil, in gemeenskap met gelowiges (i.e. deur heeltyd by jou te wees en in jou te werk), ons lei om in die voetspore van die Seun te volg terwyl ons leef as mense wat aan die Vader behoort.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 

image_pdfimage_print

You may also like...