Die Sabbat (3)

Die Sabbat (3) Coen Slabber

Ons het reeds na die sabbat in die Ou en die Nuwe Testamente gekyk. Nou gaan ons na die Sabbatviering van die Jode vandag kyk. Ons moet egter versigtig wees, want soos Christene is die Jode nie ‘n homogene groep nie. Wat hier beskryf word is een tradisie – daar is ook ander tradisies.

Oor die algemeen het ons ‘n wanbegrip van die Sabbat. Ons sien dit as ‘n dag van beperkings. Dit is omdat die Jode verbied word om op hierdie dag te werk. Vir die Jode is dit egter ‘n dag van vreugde en rus. Vir hulle staan die Sabbat sentraal – dit is die kern van die Joodse leefwyse. Dit herinner die Jode elke week aan die skepping van die heelal en die mens en aan God se verbond met hulle. Dit is die geleentheid waar elke Jood hom met God, sy familie en sy gemeenskap kan verbind. In ons besige wêreld is dit noodsaaklik. Die Talmoed beskryf die Sabbat as ‘n pragtige bruid. Joodse huishoudings verwelkom hierdie bruid deur mooi aan te trek, die huis skoon te maak en ‘n lekker maaltyd voor te berei.

Die Sabbat begin sononder elke Vrydag met die aansteek van die kerse. Omdat die Sabbatswette, onder andere, die aansteek van vure verbied, gee die kerse lig van sononder tot slaaptyd. Belangriker is die godsdienstige simboliek: dit is die rituele seremonie wat die begin van die sabbat aankondig. Dit herinner ook aan die skepping. God se eerste optrede tydens die skepping was: Laat daar lig wees.

Die begin van die sabbat word ook met ‘n kort diens in die sinagoge gevier. Hierdie diens word deur die mans bygewoon, alhoewel vrouens en kinders dit ook soms bywoon. Dit word voorafgegaan deur ‘n reeks gebede wat die Sabbat verwelkom. Hierdie gebede, meestal psalms, beklemtoon dat hierdie ‘n spesiale dag is. Dit dien ook as oorgang tussen die sekulêre weekdag na die heilige Sabbat. In baie sinagoges is die diens later, omdat baie Jode nie vroeg genoeg kan ophou werk om reeds sononder in die sinagoge te wees nie. Hierdie later dienste is dikwels meer formeel – koormusiek, ‘n preek en tyd vir sosialisering. Hierdie sosiale uur staan as Oneg Shabbat (= die vreugde van die sabbat) bekend. Die Sabbatsgroet en -gebed staan as Shabbat Shalom (= mag dit ‘n sabbat van vrede wees) bekend.

Daarna volg die ete – gewoonlik by die huis met familie en vriende. Die maaltyd begin met die sing van die gebed vir die wyn. Wyn is tradisioneel die simbool van vreugde en blydskap. Dit word dus gebruik om die aanbreek van die sabbat te verwelkom en die dag te heilig. In sekere families sal die man hierna sy liefde vir sy vrou verklaar deur verse uit Spreuke 31 voor te dra: ‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene … Daarna seën die ouers die kinders.

Voordat die brood gebreek word, is daar eers ‘n seremonie waartydens die hande gewas word. Die brood is die simbool van die manna wat God in die woestyn voorsien het. Nou word God vir die brood geloof – Hy wat brood uit die aarde voortbring. Dit is ook in die vorm van ‘n gebed. Die brood is of ‘n gevlegte wit brood of ‘n eierbrood wat spesiaal vir die Sabbat gebak word. Hierna volg die hoofmaaltyd. Die maaltyd sluit dikwels gevulde vis in – vis wat gemaal word en daarna met groente en speserye gemeng word. Dit word in die vorm van koekies of balletjies gemaak en gewoonlik met peperwortel bedien. Daarna volg klassieke hoendersop en die hoofgereg van bees of hoender. Alle disse moet vooraf berei kan word.  Hierna word nog liedere gesing gevolg deur die gebed vir die kos. Die tafel is ‘n plek vir goeie geselskap en goeie kos in ‘n ontspanne en en vreugdevolle atmosfeer.

Die Sabbatoggend gaan die familie na die sinagoge vir gebede en aanbidding. Die hoogtepunt is die lees en bestudering van die weeklikse gedeelte uit die tora. Na die middag is dit tyd vir rus, lees, leer, stap, besoeke aan vriende – ontspanning.

Die middagdiens in die sinagoge sluit in ‘n kort gedeelte uit die tora wat voorgelees word. Daarna volg ‘n ligte maaltyd. Sodra drie sterre sigbaar is, is dit die einde van die Sabbat. ‘n Baie kort diens wat die Sabbat van die sekulêre week skei, word voorgelees. Dit gebeur dikwels by die huis.  Die Sabbat begin en eindig met ‘n beker wyn. Die Sabbat eindig met die aansteek van ‘n gevlegte kers wat aandui dat dit nou weer toelaatbaar is om ‘n vuur aan te steek. Daarna volg  die ruik van die soet kruie bedien in ‘n versierde houer. Simbolies beteken dit dat die soet geur van die Sabbat nog ‘n paar oomblikke langer duur. Na die kort diens groet die aanbidders en familie mekaar met die woorde: Mag dit ‘n goeie week wees.

Die moderne Hebreeuse skrywer, Asher Ginsburg (ook bekend as Achad Ha-Am), beskryf die sentrale rol van die Sabbat in die Joodse lewe soos volg: More than Israel (the Jewish people) has kept the Sabbath, the Sabbath has kept Israel. Maak nie saak waar en onder watter omstandighede Jode gebly het nie, is dit die onderhouding van die Sabbat, individueel en gemeenskaplik, wat Jode verenig en sterk  gehou het – toegewy aan God en aan mekaar.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber